Bokswyn nie meer wynbedryf se stiefkind

Date posted:
November 23, 2011

Einde 2007 is ‘n mooi swart boks by my huis afgelewer. Toe ek dit oopmaak, vind ek vier ougat eenliterboksies wyn binne, amper soos kartondose melk met skroefdoppies heel bo, maar net mooier. Dit was die nuwe, agthoekige prisma-verpakking vir wyn.

 

Sedertdien het daai ougat boksies heeltemal van die wyntoneel verdwyn, wat baie jammer is, en vandag is dit net die groter wynbokse wat beskikbaar is.

 

Vroulief het destyds onmiddellik die groot swart boks gedêps omdat dit kwansuis so mooi was en sy gebruik dit vandag nog om los goedjies in te bêre. Maar dit sou natuurlik eers gebeur wanneer die wyn in die kleiner eenliterboksies op is. Ek het die spulletjie destyds mooi toegemaak en dit op ‘n antieke stoeltjie in die eetkamer gelos.

 

‘n Maand of twee later maak ek een aand spaghetti bolognaise, en skielik voel ek lus vir iets klams. Maar ek’s nie seker of ek vir ‘n hele bottel klammigheid kans sien nie en ek gee daai swart boks so ‘n skuins kyk.

 

Op die ingewing van die oomblik besluit ek dat ek daai bokswyn gaan probeer. Haastig sluit ek die deure en vensters, trek die gordyne toe en laat die blindings sak, waar moontlik verdof ek ook sommer die ligte en as finale versekering dat niemand gaan uitvind dat ek bokswyn drink nie, sit ek The Beatles op die haai-faai en draai daai knop dat John en sy pêlle eintlik hees word. Toe maak ek eers daai boksie rooies oop!

 

Eers gooi ek so ‘n proeseltjie in my glas, rol hom dronk en steek my neus lekker diep in die opening. En wragtag, ek ruik die kenmerkende cabernet sauvignon-geure! Ek laat so ‘n paar druppels van die nektar in my mond loop, rol dit rond oor my tong en suig so bietjie lug oor dit, en weer eens wragtag, ek kry die tipiese cabernet sauvignon-vrugtesmake!

 

Vroulief kyk my met so ‘n skeptiese glimlag aan en vra ewe dramaties: “Engel, wat sê jy?”

 

“Magtag, my meisie, jy mag vir niemand vertel nie, maar hierdie bokswyntjie makeer niks nie.” En net daar drink ek daai boksie dol leeg so oor die maak en eet van die spaghetti bolognaise! Nie veel later nie draai ek toe ook ‘n wittetjie nek-af so oor ‘n slaaitjie.

 

En nog later besluit ek dat bokswyn en piekniek mos lekker hoort te werk, veral as bokswyn so ‘n ver pad gestap het sedert my jeugjare toe hy maar gebukkend onder ‘n negatiewe persepsie (onthou jy nog vir dooswyn?) gegaan het. Welverdiend of te nie! Ek reël toe by byna al wat ‘n kelder is wat bokswyn maak vir monsters en kort daarna lyk my motorhuis soos ‘n sjebien!

 

Oukei, met bokse en bokse wyn in my motorhuis het ek toe nog net die celebrities gesoek om die piekniek perfek te maak. Ek bel toe bietjie rond en kry uiteindelik vir die pragtige Lize Beekman en die ewe pragtige Nina Swart in die hande. Maar ek soek nog twee glansmense, en ek bel ronder! En so kruis my paaie met dié van Dieter Voigt en Terblanche Jordaan.

 

Nou vir die oningeligtes, Lize is ‘n sanger en liedjieskrywer van formaat. Haar destydse cd Sit ‘n bietjie langs my is in Mei 2008 bekend gestel. Nina is ‘n algemene handelaar in die lekker dinge van die lewe, volgens haarself, maar sy’s natuurlik ook bekend as aktrise, regisseur en stemkunstenaar.

 

Dieter was die destydse Mnr. SA, ‘n oud-onderwyser en die aanbieder van die TV-gholfprogram Voorgee, terwyl Terblanche predikant, skrywer, musikant en liedjieskrywer op sy cv kan skryf. Dieter is vandag natuurlik ‘n bekende gesig op televisie waar hy as aanbieder optree.

 

Nog ‘n paar oproepe later en die hele affêre is gereël om by Darling Cellars op die Darling/Malmesbury-pad plaas te vind danksy Danie de Kock, bemarkings- en verkoopsbestuurder. Dis nou ‘n piekniek met bokswyn en glansmense.

 

En daar kom ons klompie toe bymekaar een warm weeksoggend in die tuin van Darling Cellars (022-492-2276) en sommer van meet af rol die woorde en sinne asof ons ou vrinne is wat mekaar dekades laas gesien het.

 

Vir Terblance en Dieter het bokswyn hulle aan bekostigbare drinkwyn en jool op universiteit laat dink, terwyl Lize dit as ‘n laaste uitweg beskou het en “jy dit op ‘n partytjie oopmaak wanneer niemand meer kan proe nie”. Vir Nina het dit haar aan haar dae as kelnerin op Stellenbosch herrinner en sy het dit beskou as goedkoop en minder gesofistikeerd.

 

En toe word die beskuldigdes uitgedra en voor die jurie uitgepak – Bovlei se Vin Blanc en Vin Rouge; Vinot Merlot, Rosé en Chenin Blanc; Drostdy-Hof Sauvignon Blanc, Cabernet Sauvignon Rosé en Shiraz; Chatta Box Rambling Red; Obikwa Crisp White; Roodezandt Dry Red, Grand Cru en Late Harvest; Tulbagh Johannisberger, Dry Red, Late Harvest, Rosé en Extra Light; De Wet Dry Red en Blanc de Blanc; en Du Toitskloof Cellar Rosé, Pinotage/Merlot/Ruby Cabernet, Sauvignon Blanc en Chenin Blanc.

 

En op hul hakke het die piekniekmandjies gevolg met alles wat ‘n piekniek lekker maak. Alles met die komplimente van Darling Cellars.

 

Daar is geproe en gepraat, menings is uitgeruil soos kerrie op ‘n Indiërmark, en uiteindelik was daar een gemeenskaplike antwoord op die vraag of hul persepsies van bokswyn verander het en hoekom.

 

“Absoluut”, het Terblanche gesê. “Sjoe, ek’s baie verras met die gehalte”, was Dieter se reaksie. “Bokswyn is niks anders nie as méérwyn, en heerlik”, was Lize se antwoord. “Ja, inderdaad”, het Nina bygevoeg.

 

Al vier het getuig dat hulle beslis in die vervolg ook bokswyn sal koop, en hulle was dit ook eens dat die kleiner prisma-verpakking van een liter mooi en prakties is en die negatiewe persepsies van bokswyn afbreek. Net jammer dit het intussen skynbaar in die stof gebyt weens swak bemarking.

 

Die groot boks, oftewel die Bonteheuwel briefcase, het steeds nie by die glansmense byval gevind nie en almal was dit eens dat dit steeds die persepsie van dooswyn dra.

 

Die kleiner formaat werk beter want dit lyk minder soos dooswyn, maar daai eenliterboksie is ‘n wenner want dit lyk meer gesofistikeerd en is ook lekker prakties, was al vier my gaste se oorwoë mening. En nie een van hulle sal skaam wees om daarmee gesien te word nie.

 

Na nog vele geproe en gesels is daar langtand afskeid van die bokswyn en piekniek geneem en is ons almal weer vort na ons eie bestemmings. Ja, goeie dinge kom mos maar altyd tot ‘n einde, nie waar nie!

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram