Blaauwklippen se wyne (en kos) maak akteurs liries

Date posted:
February 2, 2012

‘n Paar jaar gelede lees ek dat net 14% van Suid-Afrika se volwasse bevolking wyn drink teenoor byvoorbeeld 70% in Frankryk! En ek vra myself: Is ons maar so agter die klip hier aan die suidpunt van Afrika of weet die Franse hane en henne net soveel meer as ons? Dit kan tog nie wees dat hulle meer kultuur as ons het nie!?!

 

En glo my nou vry, net die Chinese is slegter drinkers as ons, volgens daai navorsing! Dis mos genoeg om enige mens na drank te laat gryp!

 

Voordat al die morele bewakers en beswaarmakers nou hul skietgoed of gifpenne nader sleep, ek praat nie ‘n gesuipery en dronkenskap goed nie. Wanneer ek praat van wyn drink, verwys ek na die verantwoordelike geniet en waardering van die nektar van die gode, met so bietjie meer kennis as net die verskil tussen rooi en wit! Soms op hul eie, soms met kos, maar altyd met mense.

 

Kyk, as jy ‘n slag op Blaauwklippen buite Stellenbosch (op die R44 na Somerset-Wes) gaan kuier en van daai wyne geproe het, sal jy ook soos ek wonder hoekom daai 14% nie al nader aan 40% is nie! Of veel hoër!

 

Maar nou loop ek myself vooruit. Blaauwklippen is vanjaar oor die 330 jaar oud. Dus ‘n swaargewig in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die naam is afgelei van die granietrotse op die landgoed wat sommige oggende blou skyn na swaar reën die vorige nag.

 

“Ryk aan geskiedenis” kom nie eers naby om hierdie landgoed te beskryf nie. “Asemrowend mooi” is nog ‘n beskrywing wat maar net nie reg aan Blaauwklippen laat geskied nie. Gaan kyk self. Gaan proe self. Gaan eet self. Gaan ervaar self.

 

En so kom dit dat my paaie een sonnige somersdag met dié van twee mooi jongmense van die klein skermpie kruis. Daar op Blaauwklippen (021-880-0133). Vir ‘n lekker kuier saam met ou Bacchus.

 

Karl Thaning en Vicky Davis het teen vandag geen bekendstelling meer nodig nie. Hy het destyds ‘n Engelse offisier in Feast of the Uninvited gespeel en is steeds op die kassie te sien en sy was een van die blomme in Known Gods en 7de Laan, maar vandag meer bekend as TV-aanbieder. Karl is ook ‘n swemmer van formaat en het Suid-Afrika in 2006 op die Statebondspele in Melbourne verteenwoordig.

 

Hy drink net wyn (‘n man met smaak!), en verkieslik ‘n droë witte. Sy voorkeur is sauvignon blanc. En hy skat sy wynkennis op so 6 uit 10. Sy reken haar kennis van wyn is onder 5 uit 10, maar sy twyfel nie oor haar voorkeur nie. Ook wit en ook sauvignon blanc.

 

Na ‘n rustige koetsrit deur die wingerde (ja, hier’s selfs ‘n koetsmuseum!) het ons met groot afwagting onsself gaan neerplak by ‘n tafel onder ‘n sonsambreel op die grasperk voor die Barouche Restaurant. Onder die bome. Omring deur die prentjiemooi van Blaauwklippen.

 

Links: By Vicky en Karl (voor) staan Nicolette Waterford en Delia Colborne. Kos, wyn en mense in harmonie - 'n suksesresep soos min!

 

Saam met ons was Delia Colborne, verkoops- en bemarkingsbestuurder van Blaauwklippen, en my spesiale wynvriendin, Nicolette Waterford. Sy was voorheen aan die stuur van die Stellenbosch-wynroete.

 

Die wynproe en ete sou hand aan hand loop. No problem, soos hulle lief is om op Mauritius te sê.

 

Ons heel eerste gereg, tuna op ‘n warm nicoise-slaai met ‘n tamatie- en kruieslaaisous, is vergesel van nie een nie, maar drie wyne – die Blaauwklippen Vineyard Selection (BVS) White Zinfandel 2007, die Blaauwklippen Cultivar Selection (BCS) Sauvignon Blanc 2006 en die Landau Rosé 2007.

 

Toe volg die hoofgereg, lamsvleis met groente wat jou aan Sondagmiddagetes tuis laat dink (met ma op volle vaart!), en weer eens was daar drie wyne om te proe. Die keuse vir wenner het hierdie keer bestaan uit die BVS Cabriolet, die BVS Zinfandel en die BVS Shiraz, al drie 2005-modelle.

 

Nagereg was amarula crème brûlée met tuisgemaakte mango-roomys. En dis geniet saam met Blaauwklippen se coup de grâce, die Zinfandel Noble Late Harvest 2007 en die Blaauwklippen Governess Port 1997.

 

Na die tyd was sowel Karl as Vicky vol lof vir daai wit zinfandel. Hy het dit selfs briljant genoem, terwyl Vicky met ‘n skalkse laggie bygevoeg het dat daai rosé van shiraz en cabernet darem ook nie te versmaai is nie. Volgens hulle kan albei wyne op hul eie geniet word, op ‘n piekniek of sommer net by die swembad.

 

Onder die rooies het die Cabriolet, ‘n Bordeaux-versnit van cabernet franc, cabernet sauvignon, malbec en merlot, albei se voete onder hulle uitgeslaan, terwyl Karl ook van mening was dat die rooi zinfandel hom eweveel plesier verskaf het.

 

Sowel Karl as Vicky is “Port fanatics” en die Governess 1997 het hulle uitgeboul.

 

Ekself het maar gesukkel om tussen al daai spogwyne met wenners vorendag te kom, maar na baie “introspeksie” het ek op die rosé besluit onder die wittes, terwyl die zinfandel met ‘n kortkop gewen het onder die rooies.

 

Die rooi druiwe in die rosé maak van hom ‘n besonders veelsydige wyn met ‘n potpourri van geure, insluitende aarbeie en appelliefie, en met so ‘n effe peperigheid in die agtergrond, terwyl sy vrugtige smaak my finaal oortuig het. Saam met geregte met wit of ligter rooivleise op die kole of in die skottel sal hy puik werk, asook met sushi.

 

Die ligte, peperige aroma was ook te bespeur op die zinfandel, maar sy sterk geure van donker sjokolade was wat ek die aanloklikste gevind het, en dan het daardie kenmerkende droëvrugtesmaak van hierdie kultivar my oortuig dat hy die perfekte pasmaat vir goed gegeurde geregte is, soos biefstuk op die kole of ‘n beesstertpotjie, asook vir wildsvleispotjies en geregte met ryk souse.

 

Blaauwklippen bied drie uitmuntende wynreekse, die Blaauwklippen Vineyard Selection heelbo, gevolg deur die Blaauwklippen Cultivar Selection en die Landau-reeks.

 

Verder bied hierdie geskiedkundige landgoed ook die perfekte omgewing vir enige onthaal, selfs vir soveel as 600 mense.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram