Blaauwklippen Before & After – sofistikasie, styl, genot … alles in een!

“Mens mors nie ’n goeie potketelbrandewyn op met mengeldrankies nie. Jy geniet hom skoon, of met bietjie suiwer water en, indien nodig, ysblokkies gemaak van suiwer water.” En daarmee het Oom Tollie – ’n brandewynkenner van formaat en die vyfde geslag op ’n graan- en wynplaas in die Swartland – vir ons elkeen ’n stewige potketelbrandewyn geskink, minstens ‘n dubbel, en toe ’n bottel hanepoot uit die yskas gehaal en so twee skeute daarvan bygegooi, en toe ’n skyfie suurlemoen bygevoeg.

Ek het my glas so skuins aangekyk (sien, ek’s self ’n groot liefhebber van Suid-Afrika se wêreldklas-brandewyn en geniet myne ook met so ’n spoegsel suiwer water) en toe maar ’n teug gevat … om Oom Tollie gelukkig te hou. En dis net daar en dan dat my smaakkliere begin bolmakiesie slaan het van pure plesier, en ek het nooit weer terug gekyk nie. Sedertdien geniet ek gereeld een van Oom Tollie se “skeppings” … tot nou. Sien, ek het Blaauwklippen se Before & After APÉRITIF ontdek!

Blaauwklippen se dekadente Before & After APÉRITIF is ’n meesterlike versnit van houtverouderde rooi edellaatoeswyn en Blaauwklippen se tienjaaroue potketelbrandewyn. Dis soos ’n halfwegstasie na die hemel … in ’n pragtige bottel!

Before & After bied gesofistikeerde drinkgenot regdeur die jaar. Bedien hom verkil of op ys in die somer of sommer net so as ’n verwelkomende drankie in die winter en jy sal beslis baie vriende maak. Aromas van Kerskoekspeserye en ryk vrugtekoekgeure sal jou regdeur die jaar so ’n lekker warm gevoel gee, maar veral hierdie tyd van die jaar. Die brandewyn voeg kaneel en naeltjies by, en saam met geure van soet, ryp vrugte soos rosyntjies en braambessies en sweempies eikehout sal die sintuie behoorlik gestimuleer word.

Soos sy naam aandui, werk Before & After ewe goed as ’n heerlike apéritif voor aandete of as die spreekwordelike kersie op die koek na ete. Dit kan natuurlik ook geniet word saam met nagereg soos kaaskoek met ’n ryk vrugte-bolaag, of saam met ’n geurige bloukaas- panna cotta. En as jy lief is vir ’n kaasbord, bedien Before & After met verouderde kase, neute en ingemaakte vrugte.

Net so terloops, die edellaatoes-komponent van hierdie “edel” drankie is van malbec en shiraz gemaak. Die wyn is in ou Franse eikehoutvate verouder en toe gefortifiseer met Blaauwklippen se skaars en komplekse potketelbrandewyn om iets werklik unieks te skep.

Blaauwklippen se Before & After APÉRITIF is beskikbaar teen R350 per bottel by https://www.blaauwklippen.com/product/blaauwklippen-before-after/.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>