Bilton se tweeling soos vinkel en koljander

Date posted:
September 20, 2011

Bilton se eiesoortige Matt Black, 'n geheimsinnige rooi versnit met 'n keurspel van geure wat 'n belofte van avontuur en goeie tye verwesenlik, het uiteindelik sy perfekte pasmaat gevind in die nuwe, lewendige Sauvignon Blanc wat pas bekend gestel is.

 

Die Bilton Matt Black 2008 is 'n donker, intense rooi versnit van cabernet sauvignon, merlot en petit verdot met 'n titsel shiraz, mourvèdre en pinotage. As 'n kontras tot dié alleenloper is die nuwe Matt Black Sauvignon Blanc 2011 'n klassieke en elegante vruggedrewe wyn met lae aromas van kiwivrug, soet appels, grenadella en Namakwa-blomgeure.

 

Dié wyn, wat gemaak is met 'n vroulike stempel deur die nuut aangestelde wynmaker, Elizma van der Mescht, wat reeds vroeër vanjaar kragte saamgesnoer het met die ervare Rudi de Wet in die Bilton-kelder, toon hope varsheid en kompleksiteit.

 

“Ons het probeer om 'n sauvignon blanc met veelvuldige lae te skep wat Bilton se ware terroir weerspieël en het dus druiwe van verskeie wingerde uitgekies en ook verskillende gisstowwe gebruik. Sodoende het ons 'n reeks sauvignon blanc-style geskep wat uiteindelik versny is om ons unieke geurprofiel bloot te stel,” vertel Elizma van die eerste wyn wat onder haar leiding by Bilton gemaak is.

 

Elizma het reeds in 2009 by Bilton aangesluit as kelderassistent nadat sy 'n graad in keldertegnologie aan Elsenburg Landboukollege verwerf het. Haar ondervinding by Bilton was van tyd tot tyd onderbreek met parstye in Frankryk en Italië, maar het uitgeloop op 'n permanente aanstelling as hul wynmaker vroeër vanjaar.

 

Volgens 'n Bilton-legende het 'n geheimsinnige man genaamd Matt Black gedurende die tyd van Simon van der Stel 'n neiging getoon om plaaslike skepe in die Kaap se waters van hul goedere, veral hul wyn, te “verlig”. Aangesien hy 'n groot voorliefde vir veral gehaltewyn gehad het, is hy 'n gepaste inspirasie vir Bilton se avontuurlustige nuwe wynpaar.

 

Links: Vinkel en koljander, maar ook net wanneer dit by gehalte en smaak kom. Bilton se rooi Matt Black en Sauvignon Blanc in hul interessante verpakking.

 

Afgesien van hierdie seerowerverhaal, hou die naam Matt Black ook 'n dieper en meer persoonlike betekenis vir die eienaar, Mark Bilton, in. “Blalack” is 'n ou familienaam uit die Biltons se vervloeë Amerikaanse geskiedenis en ook Mark se tweede doopnaam, terwyl sy oudste seun met die naam Matthew spog.

 

Bilton se wingerde, geleë in diep, vrugbare grond teen die hange van die Helderberg, word verder gevoed deur volop sonlig met koel westelike briesies wat al die regte toestande voorsien vir druiwe om stadig ryp te word en 'n oorvloed geure, eie aan elke druifsoort, te ontwikkel.

 

Hou jou oë oop vir die nuwe Matt Black-duo met hul kenmerkende kopbeen en gekruisde swaarde wat op die etiket verskyn. Die 2008- Matt Black-rooiwyn is teen R95 per bottel beskikbaar, terwyl die Matt Black Sauvignon Blanc 2011 teen R50 per bottel by die kelder of aanlyn by www.biltonwines.com te kry is. Albei wyne is ook by voorste wynhandelaars beskikbaar.

 

Bilton Wines, wat daagliks oop is vir wynproeë en ligte middagetes, is geleë aan die einde van die Annandalepad tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Vir meer inligting, skakel (021) 881 3714 of besoek www.biltonwines.com.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram