Bilton se keldertrots, Sir Percy, sit sy ‘visioenêrshoed’ op

Date posted:
October 14, 2011

Bilton Wines, geleë teen die hange van die Helderberg buite Stellenbosch in 'n area bekend as een van Suid-Afrika se voorste rooiwynproduserende gebiede, het pas die derde oesjaar van hul keldertrots, die volbloed- Sir Percy, bekend gestel.

 

Die 2006-oesjaar van hierdie wyn wat as 'n huldeblyk aan die Bilton-patriarg, Percy Bilton, gemaak word, is 'n kragtige cabernet sauvignon-gedrewe versnit. Dié spogwyn heet “The Visionary” as 'n huldeblyk aan die wysheid en visie van die oorlede oupa van die huidige eienaar, Mark Bilton, wat, afgesien van sy uitstekende besigheidsin, ook bekend was vir sy toekomsbeplanning en -visie.

 

Percy Bilton was 'n man van vele fasette – hy was 'n entrepreneur, 'n vader, 'n eiendomsmagnaat, 'n ontdekker en 'n gulhartige weldoener. Sy lewensverhaal word met elke oesjaar met 'n nuwe hoed op die wyn se etiket uitgebeeld om sodoende sy veelvuldige talente en eiesoortige karaktereienskappe uit te beeld.

 

Die 2006-oesjaar, wat uiters noukeuring in 'n klassieke Franse styl deur die vriendelike wynmaker, Rudi de Wet, gemaak is, is 'n ryk versnit met hope kompleksiteit en 'n tasbare, manlike aanslag. Dit bestaan uit 65% cabernet sauvignon, 18% merlot en 17% petit verdot.

 

Links: 'n Baie gawe vent wat met passie en entoesiasme gesels oor alles wat wyn is, en as jy hom in die kelder loslaat, dan verrig hy wonderwerke, soos met Sir Percy 2006. Jip, dis Rudi de Wet!

 

Eie aan Rudi se styl van wyn maak, is elke druiwekorrel vir die wyn sorgvuldig met die hand uitgesoek op die sorteertafel met die vryloopsap en parssap wat afsonderlik versny is om meer kompleksiteit aan die finale versnit te verleen. Die wyn is vir 22 maande in Franse, Amerikaanse en Hongaarse eikehoutvaatjies van 300 liter verouder voordat dit gebotteleer is.

 

“Pragtige, gebalanseerde tanniene met groot kompleksiteit en 'n lang, speseryagtige nasmaak,” is hoe Rudi hierdie weelderige wyn met sy manlike aromas van leer, swart olywe en potloodskaafsels, opgekikker met heerlike geure van viooltjies, beskryf.

 

Rudi geniet Sir Percy op sy eie of bedien dit saam met 'n heerlike sappige beesfilet wat goed ryp gemaak is.

 

Die Sir Percy 2006 The Visionary is “gebou om te hou” en 'n ware versamelstuk. Dit is teen R170 per bottel by Bilton se kelder of aanlyn by www.biltonwines.com beskikbaar. Hierdie wyn is ook by uitgesoekte boetiekwynhandelaars en fynproewer-restaurante verkrygbaar.

 

Bilton Wines, wat daagliks oop is vir wynproë en ligte middagetes, is geleë aan die einde van die Annandalepad tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Vir meer inligting, skakel (021) 881-3714 of besoek die webwerf www.biltonwines.com.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram