Bewaring op Nederburg se wynplase besorg hom gesogte BWI-status

Date posted:
July 7, 2011

Nederburg-Wyne is as lid van die Biodiversiteit & Wyn-inisiatief toegelaat danksy ekovolhoubaarheidsprojekte wat Nederburg-Wynplase (’n groep van vier plase) onderneem. Die bewaringspogings van een van sy grootste voorsieners het ook hiertoe bygedra.

 

Om BWI-akkreditering te verdien, moes die wynmakery minstens vyf plase hê wat aan die bewaringsmaatreëls van dié organisasie, 'n deel van die WWF, voldoen.

 

Nederburg, met ’n parsvermoë van 20 000 ton druiwe per jaar, is een van die voorste wynhandelsmerke in Suid-Afrika en voer wyn uit na oral ter wêreld.

 

Hoewel die wynmakery jarelange verbintenisse het met druiweprodusente oral in die Kaap, kom byna die helfte van die druiwe waarvan Nederburg-wyne gemaak word van sy eie plase. Dié is Nederburg self, Groenhof in die Koelenhof-area by Stellenbosch, Plaisir de Merle in Simondium, en Papkuilsfontein, ’n droëlandplaas naby Darling. Laasgenoemde twee het reeds BWI-status omdat hulle onderskeidelik 500 ha en 150 ha vir bewaring opsy gesit het. Die voorsienersplaas is ook naby Darling en het BWI-status ontvang omdat groot dele van die plaas weer in ’n inheemse habitat omskep is.

 

Volgens Hannes van Rensburg, die groepbestuurder van Nederburg-Wynplase, beskik alle ander produsenteplase wat aan Nederburg lewer oor Geïntegreerde Produksie van Wyn- (GPW-) akkreditering.

 

“Daar was ’n deeglike ondersoek na en naspeuring van die voorsieningskanaal, en op grond van die gesamentlike pogings van ons eie plase, en dié van ons voorsieners, is Nederburg nou as ’n lid van die BWI toegelaat.”

 

Hy sê op Nederburg, wat 244 ha groot is en die wynkelder huisves, is baie min onbewerkte grond waarop inheemse plantegroei gevestig kan word. Die klem is dus gelê op die aanplanting van spekboomheinings (Portulacaria afra) omdat hulle koolstof so goed absorbeer en in die grond bewaar. Die plan was ook om wilde-ertjie (Vicia benghalensis) tussen die spekbome te plant as voer vir die Hereford- en Angus-koeie wat natuurlike bemesting vir die wingerde voorsien.

 

Boonop help genaturaliseerde peulplante, wat stikstof bind en tussen die dekplante in die wingerde gesaai word, om stikstof-vrystellings wat tot rookmis en aardverwarming bydra, teen te werk.

 

Die plaas benut ook gefiltreerde afvalwater van die kelders om weiveld te besproei, soos ook op Plaisir de Merle geval is. Boonop word druiwepit-olie van die druiwepitte gemaak.

 

Op Groenhof het die hoofklem geval op die verwydering van indringerplante wat ook gehelp het om die waterbalans te herstel. In die plek van die indringerplante het renosterveld weer sy verskyning gemaak.

 

“Bykans 98% van die waterbronne in Suid-Afrika is reeds ten volle toegewys, dus moet ons waterverbruik dringend verminder en in varswaterstelsels belê. BWI-navorsing toon dat 90% van alle natuurrampe in die jare negentig waarskynlik waterverwant was. Met die holistiese bestuur van natuurlike stelsels op wynplase kan ons begin om die uitwerking van klimaatsverandering teen te werk. Die BWI het getoon dat die behoud van gesonde vleigrond en oewerbuffers help om erosie te bestry, vloedskade te beperk, watergehalte te verbeter en selfs blootstelling aan vloed- en brandskade te verminder.”

 

Van Rensburg sê die verwydering van sowat 18 ha dennebome op Plaisir de Merle het verdere waterbesparings meegebring. Inheemse olienhoutbome is in hul plek gevestig. Die plaas strek van die Simonsberg-platorand tot na aan die Bergrivier in die vallei, en is dus ryk aan biodiversiteit, met baie plant- en dierelewe. Die twee riviere op die eiendom het inheemse visse en dien as natuurlike deurgange vir diere wat van die berge na die laerliggende dele van die plaas beweeg. Daar groei ook talle proteaspesies in die fynbos teen Simonsberg se hoër hange.

 

Daar is inheemse bome en boskasies in die klowe wat dien as habitat vir talle soorte wilde diere, van verskeie boksoorte en ystervarke tot luiperds en rooikatte. Daar is baie watervoëls, asook tarentale en patryse, en visarende en ander roofvoëls word gereeld opgemerk.

 

Op Papkuilsfontein is daar ’n groot lap Swartlandgraniet-renosterveld, ’n erg bedreigde plantetipe wat deel vorm van Contreberg in die Darling-heuwels. Daar is grysbokke, duikers, rooikatte, jakkalse en talle soorte voëls op die plaas.

 

Nederburg se kelder het ook ’n SGS-akkreditering om organiese wyn te maak. Sommige van die wingerde op Papkuilsfontein word organies gekweek, en SGS het hulle as sodanig gesertifiseer.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram