Bellevue sien rooi hierdie winter!

Die winter is hier en so ook knetterende kaggelvure, heilsame gemakskos en heerlike rooiwyne. Bellevue buite Stellenbosch het nét die regte medisyne om die snerpende winterweer hok te slaan, naamlik die Bellevue “1953” Pinotage 2016 en die Bellevue Malbec 2014. Nie net sal hierdie spogwyne die winter se koue kiering nie, maar hulle sal beslis ook die tonge aan die gons sit … in meer as een opsig!

 

Die Bellevue “1953” Pinotage 2016 is die eindresultaat  van dekades se harde werk in sowel die wingerd as die kelder. Die wyn het sy naam te wyte aan die feit dat hierdie spesifieke wingerd in 1953 aangeplant is. Hierdie blok pinotage is die afgelope 64 jaar as droëlandwingerd bewerk, maar drupbesproeiing is in Mei 2017 aangebring om die wingerdstokke in die heersende droogtetoestande te help. Hierdie “meneer van ’n pinotage” onthul geure van pruime en maraschino-kersies in die neus, wat in die mond voortgesit word, en toon verfyndheid, suiwerheid van vrug en groot kompleksiteit en lengte. Die mondgevoel spreek van geïntegreerde en soepel tanniene tesame met gekonsentreerde vrugtegeure wat talm. Hierdie keldertrots, die ideale pasmaat vir wildsvleis- en lamsvleisgeregte, is by die kelder beskikbaar teen R545 per bottel.

Die ander winterwenner uit die kelder van hierdie bekende wynlandgoed in die Bottelary-heuwels is die 2014- Malbec. Hierdie rooiwyn stel vrugtige aromas in die neus vry tesame met roosmaryn, kruisement en fynbos. Hierdie geure word ook in die mond ervaar. Dis ’n puik koswyn wat met speseryagtige disse en geroosterde vleisgeregte geniet kan word, asook met Thai-disse en geregte uit die Midde-Ooste. Dis ook by die kelder beskikbaar en kos R110 per bottel.

 

Vir meer inligting oor Bellevue se vele aanbiedings, skakel 021 865 2054 of stuur ’n epos aan info@bellevue.co.za, of besoek www.bellevue.co.za.

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>