Bekendes se wynvoorkeure

Date posted:
February 18, 2009

Toe ek die Buite met Bacchus-wynrubriek in Die Burger se weeklikse Buite-bylae begin het, ek kan nie meer onthou hoe lank gelede nie, was die doelwit tweeledig, naamlik om meer mense te kry om wyn verantwoordelik en met waardering te geniet en ervaar, en om mense uit hul gemaksones te kry en ons natuurskone wynlande te besoek en al die juwele te ontdek.

 

 

Buite met Bacchus het gou twee vorms aangeneem, die een maand is hy ‘n wynrubriek waar ek en ‘n bekende persoonlikheid ‘n wynmakery besoek en die ander maand besoek ek drie/vier wynmakers in ‘n area binne ‘n wynroete.

 

 

Onder die bekende persoonlikhede (“celebrities” of glansmense) wat ek tot dusver die voorreg gehad het om saam mee te kuier rondom wyn en kos, was liedjieboere Danie Niehaus, Lize Beekman en Theuns Jordaan; akteurs Shaleen Surtie-Richards, Pedro Camara, Nina Swart, Marion Holm en Vicky Davis; renjaers Sarel van der Merwe en Hannes Oosthuizen; en oud-WP-, Stormers- en Springbokkaptein Corné Krige.

 

 

Ek en Danie Niehaus ken mekaar al baie jare en ek was bevoorreg om hom as my heel eerste “celebrity”-gas te hê. Ons het by die Louws op Diemersdal in die Durbanville-wynvallei gaan kuier waar Danie erken het sy wynkennis is nou nie juis aardskuddend nie, maar dat ‘n droërige rooie soos ‘n merlot hom soos ‘n handskoen pas. ‘n Witte moet ook glo droog wees, en daai dag het al vier die sauvignon blancs wat ons geproe het vir Daantjie gewen.

 

 

Ek, Supervan en Haastige Hannes het op Nelson’s Creek in die Agter-Paarl bymekaar gekom. Albei was maar beskeie oor hul wynkennis, maar Sarel het gou bygevoeg dat hy wit bo rooi verkies, dat ‘n sauvignon blanc en chenin blanc glad nie te versmaai is nie, maar dat ‘n merlot en shiraz aan die rooi kant hom darem maklik van sy jig laat vergeet.

 

Hannes was meer duidelik oor sy wynvoorkeure: sauvignon blanc en shiraz, en basta!

 

 

Pedro Camara was my gas tydens ‘n besoek aan Stellenzicht. Hy het sy wynkennis so op 5 uit 10 geskat en gesê dat hy rooiwyn bo alles verkies, veral ‘n merlot en ‘n shiraz. Daai dag het ‘n sauvignon blanc darem ook sy voete onder hom uitgeslaan en ek reken ten minste een witte tel vandag ook onder sy gunstelinge.

 

 

Die negatiewe persepsies rondom bokswyn het my genoop om ‘n rubriek oor bokswyn en piekniek te doen. My gaste vir die rubriek was Lize Beekman, Nina Swart, Dieter Voigt (Mnr. SA van toe) en Terblanche Jordaan (predikant en “rocker”). Al vier was verras oor die gehalte van goeie bokswyn, maar het dit duidelik gestel die kleiner formaat (1 liter tot 3 liter) is verkiesbaar bo die 5 liter-boks wat darem steeds te veel na dooswyn lyk, en soms ook so proe.

 

 

Daarna was dit Blaauwklippen en die twee akteurs Vicky Davis en Karl Thaning. Albei het hul wynkennis op “redelik” geskat, en toevallig is albei se voorkeur droog wit, en wat anders as sauvignon blanc!

 

 

“Skattie, ek’s nie eintlik ‘n wyndrinker nie” was Shaleen Surtie-Richards se eerste woorde nadat ons gegroet het by Kango-wyne op Oudtshoorn. Maar, het sy gou bygevoeg, ‘n droë wittetjie, veral sauvignon blanc, is darem nie te versmaai nie.

 

 Later het ek vir oud-Wp-, Stormers- en Springbokkaptein Corné Krige na Allesverloren in die Riebeek-vallei gevat vir ‘n Buite met Bacchus-rubriek.

 

 

 “Jong, hoe kan iemand wat uit Zambië kom veel van wyn weet?” wou Corné by my weet toe ek hom na sy wynkennis en –voorkeure uitvra. Maar hy het dadelik bygevoeg dat hy rooiwyn verkies, veral pinotage en shiraz, “en ook ‘n lekker volronde cabernetjie”.

 

 

 Grapjas Marion Holm was my volgende glansgas en ons het by Rickety Bridge by Franschhoek gaan kuier. Sy het haar wynkennis op ‘n 1 uit 10 gereken, terwyl haar wynvoorkeure sauvignon blanc in die somer is en cabernet sauvignon in die winter.

 

 

 Die laaste Buite met Bacchus-rubriek met ‘n glansmens in 2008 was saam met liedjieboer Theuns Jordaan by Pulpit Rock, ook daar in die Riebeek-vallei. Ek moet darem net erken dat Theuns man-alleen daarin geslaag het om my versameling Afrikaanse CD’s van niks tot iets noemanswaardig te laat groei.

 

 

 Theuns het prontuit erken dat hy niks van wyn weet nie, dat hy nie witwyn drink nie, maar dat ‘n lekker rooie darem nie te versmaai is nie. Wel, toe ek die punte optel na die proe, het twee rooies én ‘n witte eweveel punte by Theunsman gekry! Wys jou net, né, praat eers nadat jy geproe het!

 

 

 Ek gaan deur die jaar probeer om ‘n paar bekendes nader te sleep om hul wynkennis en –voorkeure met julle te deel. Hou dus gerus hierdie ruimte dop!

 

 

Wyngroetnis!

 

 

Einde 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram