Bein se Merlots laat smaakkliere wêreldwyd toi-toi!

Date posted:
December 7, 2011

Grootte tel nie! Wel, skynbaar nie wanneer dit by die maak van uitstekende wyn kom nie. Om die waarheid te sê, in wynmaakterme sit ‘n Dawid dikwels vir ‘n Goliat ore aan.

 

Vat nou byvoorbeeld vir Petrus Place in die Polkadraai-heuwels naby Stellenbosch. Die tuiste van uitmuntende merlots van Luca en Ingrid Bein, vandaar die Bein-handelsmerk, is ‘n skamele drie hektaar groot, insluitende die huis en die kelder. Met slegs 2,2 hektaar onder merlot is dit heelwaarskynlik die kleinste professionale boetiek-wynmakery in die land.

 

En die drie merlot-wyne wat met passie en sorg deur Luca en Ingrid gemaak word, is voldoende bewys dat grootte nie tel nie. Om die waarheid te sê, die grootte van hierdie boetiek-wynmakery en die feit dat slegs vier mense hier in diens is, insluitende Luca en Ingrid, beteken dat Bein se merlots in die volle sin van die woord handgemaak is.

 

Slegs sowat 16 000 bottels merlot word jaarliks gemaak, waarvan 70% na Switserland uitgevoer word, en die res na China, Thailand (waar dit in spoggerige hotels verkoop word), Duitsland en die VSA. Plaaslik is hierdie spogwyne slegs in sommige van Suid-Afrika se top restaurante beskikbaar.

 

“Ons vat geen kortpaaie wanneer ons ons wyne maak nie,” sê Ingrid. “Ons is bevoorreg dat ons ons drie merlot-wyne in beperkte hoeveelhede maak en derhalwe al ons energie, ervaring en kundigheid in gehalte kan sit. Ons weier om gehalte vir enigiets op te offer. Miskien is dit een van die redes waarom ons wyne altyd uitverkoop is.”

 

Die eerste oesjaar is in 2002 gebottel, en na slegs ‘n paar jaar kan die Bein Merlot (die vlagskip), die Bein Little Merlot en die Bein Pink Merlot (‘n baie veelsydige droë rosé) terug kyk op ‘n lang lys lofbetuiginge en toekennings plaaslik sowel as in die buiteland, insluitende ‘n goue medalje La Séléction op die Weinmesse Basel vir hul heel eerste oesjaar, nog goud by die Concourse Mondial de Bruxelles en 4 ½ sterre in die gesaghebbende 2005 Platter’s South African Wines.

 

En asof dit nie genoeg is nie, het die Beins ook in die top tien (uit 200 inskrywings) ge-eindig in die Diners Club Winemaker of the Year-toekennings in 2005.

 

Maar Bein maak nie net heerlike merlot-wyne nie. Hier is ook asemrowende uitsigte op die wynlande en Valsbaai van sy ligging teen die suidelike hange van die Polkadraai-heuwels.

 

Links: Die asemrowende uitsigte vanaf die Polkadraai-heuwels met Petrus Place, die tuiste van Bein Merlot, in die voorgrond.

 

Die plaas is ideaal vir die groei van merlot-druiwe. Die nabyheid aan die kus verseker ‘n gedurige koel briesie vanaf die oseaan wat sorg vir die nodige temperatuur en humiditeit vir ‘n stadige en eweredige rypword van die druiwe. Voeg hierby diep en goeie granietgrond, en jy het die ideale terroir vir hierdie Bordeaux-kultivar.

 

Om hul wingerdbestuur te optimaliseer, maak die Beins gebruik van moderne tegnologie en tegnieke, soos voortdurende grondvogbeheer, gerekenariseerde monitering en infrarooi-afstandwaarneming.

 

Maar moenie gebluf word deur al hierdie gevorderde tegnologie nie. Die Beins glo daarin om omgewingsvriendelik te wees, persoonlik en professioneel, en gebruik byvoorbeeld voëlnette om die ryp druiwe te beskerm, donkiemis as bemesting en geen insekdoders nie.

 

Enige storie oor Petrus Place en Bein-wyne is egter nie volledig sonder ‘n kort geskiedenis van die Beins nie.

 

Dit het alles byna 30 jaar gelede begin toe Luca en Ingrid, albei gevestigde veeartse in Switserland, op Suid-Afrika in die algemeen en Stellenbosch in die besonder verlief geraak het. Met ‘n byna lewenslange passie vir wyn het hulle die 3 hektaar grond in 1993 gekoop, en nadat hulle dieper by die projek betrokke geraak het as wat hulle aanvanklik beplan het, het hulle Stellenbosch toe getrek en hulle tuis gemaak op hul lappie grond. Maar omdat veeartsenykunde baie van wynmaak verskil, het hulle albei aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf en in 2002 hul BSc-landbougrade in wingerdbou en wynkunde verwerf. En die res, soos die gesegde lui, is geskiedenis.

 

Vir verdere inligting, skakel 021-881-3025, epos lib@beinwine.com of besoek www.beinwine.com.

 

einde

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram