Barrydale stel beperkte Joseph Barry Cape Pot Still Brandy 10 Year vry

Date posted:
March 23, 2009

 

Brandewyn is so deel van die Suid-Afrikaanse kulturele omgewing soos sonskyn, braaivleis en rugby, en word met ‘n verskeidenheid mengeldrankies geniet. Maar wanneer iemand vir jou ‘n brandewyn met karakter aanbied, drink dit tog skoon, of dan net met ‘n bietjie water en/of ys.

 

So ‘n brandewyn is die pas uitgereikte Joseph Barry Cape Pot Still Brandy 10 Year waarmee die Barrydale Wynkelder in die Klein Karoo 'n onblusbare gees in sy midde verwelkom.

 

“Hierdie brandewyn – twee maal gedistilleer in 'n tradisionele Woudberg-koperpotketel en daarna verouder in Franse eikehout vir jare soos ons ander brandewyne – is die spreekwoordelike ‘maverick’ - 'n alleenloper wat nie konformeer nie – en bietjie van ‘n rebel,” sê Riaan Marais, wynmaker by Barrydale Wynkelder.

 

“Deur die jare was daar voortdurend 'n gedeelte van ons brandewyn onder veroudering wat buite die Joseph Barry-norm geval het, wat ons heeltemal dronkgeslaan het.  Met al die ander dinge dieselfde, hoekom was hierdie lot so verskillend van die res van die familie? Uiteindelik het hierdie brandewyn homself onthul as die een wat nommerpas sou wees vir 'n tienjaaroud. Dié buitestaander het bloot tyd nodig gehad om sy ware karakter te ontbloot,” verduidelik hy.

 

“Dit is wat so verstommend is van die maak van brandewyn. Dit het eintlik min te doen met die chemie binne die vat en als te doen met die magiese,” meen Ferdi Smit, brandewyn-produksiebestuurder by Barrydale Wynkelder.

 

Brandewyngeesdriftiges sal moet spring om die besondere brandewyn aan te skaf aangesien slegs 3 000 bottels hiervan uitgereik is. Die 10 Year kos R350 per bottel en kan direk bestel word van Barrydale Wynkelder. Dit is ook beskikbaar by Wine Concepts, Caroline’s Fine Wine Cellar, Morgans en ander uitgesoekte drankwinkels.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram