Barrydale se kampioen-brandewyn kry nuwe baadjie

Date posted:
April 10, 2012

In die Klein Karoo sit die brandewynmakers nie terug nadat daar internasionale lofprysinge, “beste ter wêreld”-toekennings en gesogte plaaslike medaljes geoes is nie. Inteendeel, aangevuur deur ‘n begeerte om as die land se hart van brandewyn erken te word, word daar voortdurend verander en verbeter.

 

Soos nou weer met die treffende nuwe verpakking van die reeds legendariese Joseph Barry 10 Year Old South African Potstill Brandy uit die stal van die Barrydale Kelder. Uitdagings is waarvan hierdie brandewynmanne hou en daar’s ‘n energieke pioniersgees wat ook in al hul  brandewyne, en veral die eiesoortige Joseph Barry 10 Year Old, uitgebeeld word. 

 

“Die uitdrukking ‘moenie krap waar dit nie jeuk nie’ bestaan nie in ons woordeskat nie,” reken Riaan Marais, hoofbestuurder van Suid-Kaap Wingerde.  “Selfs ‘n kampioen-brandewyn soos die Joseph Barry 10 Year Old rus nie op sy louere nie – vandaar ‘n baie stylvolle nuwe bottel en etiket wat dit sal laat uitstaan tussen die wêreld se grotes as gesofistikeerd en luuks, maar ook modern en ‘edgy’.”

 

Marais verduidelik dat die nuwe voorkoms en moderne silhoeët deel van ‘n groter plan is om hul familie van gedistilleerde produkte ‘n sterk identiteit te gee. “Ons het onlangs ‘n grappa, Joseph Barry Husk Spirit, bekend gestel wat ook in ‘n baie treffende ontwerpersbottel verpak is. Die gehalte-verpakking van ons produkte weerspieël die voortreflikheid wat in die bottel wag. Selfs die vorm van die bottel sê iets van die selfvertroue, vakmanskap en weelde daarvan.”

 

Die goue grafika op die Joseph Barry 10 Year Old se nuwe bottel eggo die flikkerende goue kleur van die brandewyn, ‘n versnit van st emillion- en colombar-druiwe. Die nuwe baadjie beeld ook die onblusbare gees van die brandewyn uit.

 

Spreekwoordelike “maverick”

 

“Toe ons in 2009 vir die eerste keer die Joseph Barry 10 Year Old bekend gestel het, was dit duidelik dat dit ‘n uitskieter gaan wees. Hierdie brandewyn – twee maal gedistilleer in ? tradisionele Woudberg-koperketel en daarna verouder in Franse eikehout vir jare - is die spreekwoordelike maverick, ‘n rebel wat vroeg reeds sy eiesoortige karakter in die kelder ontwikkel het.

 

“Ons het toe al geweet ons volgende uitdaging sou wees om weer so ‘n eiesoortige pionier vir ons volgende tienjaaroue potketelbrandewyn te vind,” vertel Ferdi Smit, die brandewynmaker. “Ons was gelukkig dat dit binne drie jaar gebeur het want met  brandewyn kan mens nie seker wees nie.”

 

Maar hoe proe so ‘n “pedigree”-brandewyn? Daar wag ‘n magdom ryp vrugte-aromas, die geur van vrugtekoek met hope kersies, asook vanielje, gevolg deur blomgeure. Dan skitter dit op die tong met diep vrugtegeure en soet spesery van vanielje. Dit vloei sag oor die tong, is goed geïntegreer en kompleks met goeie balans. Dan sluit dit af met ‘n laaste sweempie vrugtekoek en blomgeure. Jy kan ook verras word met ‘n tikkie spookasem en sitrusskil, asook pepergeure afkomstig van die hout.

 

Klein Karoo-pionier:

 

? Mens kan nie van die karaktervolle Joseph Barry 10 Year Old praat sonder om melding te maak van die legendariese Overbergse entrepreneur na wie dit vernoem is nie. Marais vertel: “Joseph Barry was ‘n ware vrygees, avonturier en visionêre denker.  Barrydale het sy bestaan te danke aan die handel wat hy gevestig het met plaasboere in die omgewing gedurende die middel 1800s. Met die vestiging van handel het hy genoeg invloed gehad om aan te dring op kwaliteit. Brandewyn het ? belangrike deel gevorm van dié handeldrywery, en toe sy heerskappy gekwyn het na sy dood in 1865 was Barrydale reeds bekend vir sy kwaliteit-brandewyn.”

 

Die gebied se uitset en reputasie het mettertyd so gegroei dat dit gelei het tot die stigting van Barrydale Kelder in 1941. Hierdie kelder, nou deel van Suid-Kaap Wingerde, het sedertdien van krag tot krag gegaan en plaaslik én internasionaal met groot name meegeding. So het Joseph Barry 10 Year Old by die International Wine & Spirit Competition (IWSC) wat in 2009 in Londen gehou is, koning gekraai as die “Beste Brandewyn in die Wêreld”.

 

Barrydale Kelder maak ook ander bekroonde potketelbrandewyne, soos die Joseph Barry Cape Traditional Potstill Brandy en die Barry & Nephews Muscat Potstill Brandy. Die 10 Year Old South African Potstill Brandy kan by die kelder of uitgesoekte drankhandelaars verkry word teen R410 per bottel

 

Barrydale Kelder is geleë op die R62 Brandewynroete. Die kelder is oop vir proeë en keldertoere kan vooraf bespreek word.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram