Barista Pinotage 2009 bekend gestel deur Val de Vie

Date posted:
October 9, 2009

Die geskiedkundige leefstyl-landgoed, Val de Vie, geleë langs die Bergrivier naby die Paarl, het die eerste oesjaar van hul “koffie-pinotage”, die Barista Pinotage 2009, bekend gestel. En die man wat die eerste “koffie-pinotage” uitgedink en geskep het, Bertus “Starbucks” Fourie, is oortuig die Barista Pinotage 2009 is die beste “koffie-pinotage” wat hy nog gemaak het.

 

Bertus, Besturende Direkteur van Val de Vie Wines, sê: “Sedert ek die eerste keer in 2001 op hierdie wilde gis met sy kenmerkende koffie- en sjokolade-aromas en –geure afgekom het (terwyl ek met verskillende soorte giste ge-eksperimenteer het vir my Meestersgraad in wynkunde), het ek hierdie unieke wynstyl verbeter. Die Barista Pinotage 2009 is ongetwyfeld my beste ‘koffie-pinotage’ tot op hede, en afhangende van toekomstige oesjaarvariasies kan ek sien dat hierdie wyn selfs verder sal verbeter. Dit is duidelik nou die maatstaf vir hierdie wynstyl.”

 

Die Barista Pinotage ontplof met intense, ryk koffie- en sjokolade-aromas en nuanse van ryp moerbeie, pruime en Maraschino-kersies. Al die geure word in die mond geopenbaar en versterk deur soet aromas van vanielje en botterkaramel. Die wyn het ryk, gulhartige tanniene en kan onmiddellik geniet word.

 

Die Barista Pinotage is baie kosvriendelik en word in heelwat restaurante gelys met disse soos vleisgeregte en ryk, romerige kasserolgeregte tot nageregte.

 

Bertus Fourie is passievol oor die wyn en glo die Barista- “koffie-pinotage” het ‘n belangrike rol om te speel om die storie van pinotage internasionaal te versprei. “Barista Pinotage is die mees omstrede styl van pinotage ter wêreld. Die meeste mense is versot daarop nadat hulle dit geproe het. Die wyn praat nie van terroir nie aangesien eikehout die oorheersende rol speel en lei tot sy koffie- en sjokolade-geure – die rykheid van koffiebone en die gladheid van romerige sjokolade.”

 

 

Links: Nou kan jy sommer jou wyn en koffie saam geniet!

 

 

Die naam Barista, uit Italiaans, is onbeskaamd pure koffieterminologie. ‘n Barista is iemand wat hoogs opgelei is in die voorbereiding van koffie en met ‘n omvattende begrip van koffie en koffie-versnyding. Baristas is bekend vir hul eiesoortige koffiestyle. Die begrip Barista is uitgebrei tot diegene wat ‘n “koffie-sommelier” genoem kan word. Dit is baie gepas want die naam “koffie” is afgelei van die antieke Arabiese begrip “qahwat al-b?nn”, wat “wyn van die boontjie” beteken. Die swart en wit blokkies op die nek van die Barista Pinotage-bottel dui op die vloere wat in die meeste Italiaanse koffiekroeë gevind word.

 

Die skoon lyne en minimalistiese stilering van die Barista-etiket dui daarop dat hierdie ‘n wyn is wat ernstig opgeneem kan word. En dit kan beslis. Die wyn is baie glad ondanks sy jeugdige ouderdom en daar is ‘n soomlose integrasie van hout en vrugte. Die wyn het ‘n skroefdop en sal in supermarkte en ander drankwinkels teen sowat R60 per bottel verkoop word.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram