Bain’s Cape Mountain Whisky aangewys as een van die lekkerste whiskies!

Date posted:
July 11, 2012

 

Die trots Suid-Afrikaanse Bain’s Cape Mountain Whisky is in Ian Buxton se 101 Whiskies To Try Before You Die, die VK se gewildste whiskyboek vir die afgelope twee jaar, opgeneem. Die jongste uitgawe van hierdie boek is pas bekend gestel.

 

Die boek is ’n gids om elke whiskyliefhebber se ervaring te vergroot met ’n ontdekking van die onderskeie aanbiedings regoor die wêreld – van Swede tot Japan en van Suid-Afrika tot Skotland. Buxton, wat meer as twee dekades in die whiskybedryf werksaam was, het ’n reputasie vir sy kennis opgebou en deel dit in sy boek. Die whiskies wat gelys word, is volgens hom nie ’n toekenningslys nie, maar eerder ’n duidelike gids oor whiskies wat elke entoesias moet bestudeer om hul whisky-opvoeding te voltooi.

 

Die insluiting van Suid-Afrika se eerste 100% graanwhisky in die lys is ’n enorme prestasie vir sy skepper, Andy Watts, die meesterdistilleerder by die The James Sedgwick-whiskydistilleerdery in Wellington. Hierdie whisky is natuurlik geen vreemdeling vir die kollig nie. Op verlede jaar se International Wine and Spirits Competition het beoordelaars die whisky geloof vir sy “uitstekende, skoon, lewendige toetrede tot die mond met soet graanvastheid en pragtige balans”.

 

Bain’s Cape Mountain Whisky is geïnspireer deur die Bainskloofpas en sy natuurlike skoonheid en word gemaak van die beste Suid-Afrikaanse graan. Dit is Suid-Afrika se eerste enkelgraanwhisky en sy dubbelveroudering verleen geur en kompleksiteit wat lei tot ’n buitengewoon gladde en kenmerkende whisky.

 

Die whisky toon ’n buitengewone interaksie tussen spiritus en hout om ’n mengsel van toffie-, blomme- en vanieljegeure te gee, asook geure met ’n sweempie spesery wat versag word deur ’n soetigheid in die agtergrond. Die gevolg is ’n warm en talmende mondgevoel met ’n buitengewoon sagte einde.

 

Bain’s Cape Mountain Whisky word gedistilleer en verouder by die The James Sedgwick-distilleerdery wat in 1886 gebou is en naby die voet van die Bainskloofpas in Wellington in die hart van die Boland lê. Die whisky bring hulde aan Andrew Geddes Bain, die pionierende pasbouer wat die meesterbrein agter die Bainskloofpas was wat Wellington in 1853 met die binneland verbind het.

 

Bain’s Cape Mountain Whisky is by vooraanstaande drankwinkels beskikbaar teen sowat R200 per 750ml-bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram