Baden: Duitsland se ‘pinot-paradys’

Die Duitse wynstreek Baden het talle stories te vertel. En dis beslis nie die stories waaraan mense gewoond is nie. Dit het ek gou agtergekom tydens my onlangse besoek.

Maar eers, ’n bietjie oor Baden. Dit is Duitsland se mees suidelike streek, en die warmste. Switserland en Frankryk is in sig.

Diegene wat van hul Duitse druiwe ekstra ryp hou, sal baie van Baden-wyne hou. Die totale wingerd-area is sowat 16 000 hektaar teen verskillende hoogtes en hellings. Die grondsamestelling is ’n verstommende lappieskombers – alles van kalksteen, klei, loes, graniet, sand tot selfs vulkaan! Kaiserstuhl, ’n dooie vulkaan, is hiervoor verantwoordelik. Mens sal ook sedimentêre gletser-afsettings in die Bodensee-area.

Terwyl wit kultivars die aanplantings in Baden oorheers met 60%, is spätburgunder (pinot noir) die mees aangeplante wyndruif met ’n aandeel van sowat 35%. Dis dan ook hoekom die streek bekend staan as die “pinot-paradys”. As jy nou eers Duitsland se pinot noir ontdek, moet Baden eenvoudig jou eerste stop wees.

Maar Baden bied ook puik müller-thurgau, grauburgunder (pinot gris), weißburgunder (pinot blanc), die skaars gutedel (ook bekend as chasselas – die laesuur-, kosvriendelike gunsteling-witwyn van die plaaslike inwoners) en natuurlik riesling – hier bekend as klingelberger. Hoewel riesling en klingelberger dieselfde is, is die laaste sinoniem met Baden-gehalte.

Die sleutel tot Baden se sukses is die ekstra hitte. Die klimaat stel die streek in staat om ander kultivars aan te plant wat ekstra rypword benodig en bied ’n ander blik op die algemene kultivars waaraan mense so gewoond geraak het uit Duitsland – met ’n reuse-klem op pinot noir.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>