Baan jou weg deur 7 000 Suid-Afrikaanse wyne in 2012 se Platter-wyngids

Date posted:
December 2, 2011

Met meer as 7 000 Suid-Afrikaanse wyne verteenwoordig in die omvattende Platter’s South African Wine Guide 2012,kan hierdie gesaghebbende wynpublikasie met reg as die wynliefhebber se “sat-nav” beskryf word, ‘n gids wat jou ‘n magdom beskikbare handelsmerke bring en die beste gehalte en waarde uitwys.

Platter’s, wat reeds sedert 1980 uitgegee word, is die oorspronklike en steeds die gunsteling gids oor wie’s wie en wat’s wat in die Suid-Afrikaanse wynlande. Die 32ste uitgawe, wat op 8 November bekend gestel is, behels meer as 900 Suid-Afrikaanse wynprodusente, -handelaars en –handelsmerke, insluitende 58 nuwes, en meer as 7 000 plaaslike wyne.

Die gids se wynbeskrywings en stergraderings, wat in samewerking met ‘n span wynkenners saamgestel is, maak dit maklik om die regte wyn vir enige geleentheid te vind, terwyl die aanwyser van goeie waardedaardie wyne aandui wat oor alle gehaltevlakke die beste waarde bied.

Die Platter’s South African Wine Guide 2012word in hardeband en verskeie digitale formate gepubliseer en bevat ook omvattende inligting oor waarheen om te gaan en wat om te doen in die wynlande. Eetplekke, verblyf en kelderproeë word ook in detail gedek, asook verskeie en verskillende fasiliteite, attraksies en aktiwiteite by kelders. GPS-koördinate, kaarte wat maklik is om te gebruik en tabelle voorsien belangrike inligting vir diegene wat hul eie wynbesoeke wil beplan, terwyl spesialis-wyntoeroperateurs en alternatiewe gelys word vir diegene wat ‘n beplande toer soek.

Die jongste inligting oor die belangrikste wynareas, druifkultivars, wynmaakstyle, wynproeterme en die belangrikste wynkompetisies en toekennings, asook ‘n lys van handelaars in puik wyn, wynverskepers en wynopvoeders landwyd rond hierdie allesomvattende gids af.

Die tema vir vanjaar se uitgawe is Dink Buite Die Boks,en die inhoud sluit ook ‘n volkleur-fotogalery en baie van die inskrywings in die A-Z-gids in waar daar gefokus word op organisasies en individue wat innoverend is met idees, tegnieke en tegnologie in wingerdbou, wynmaak, verpakking, wyntoerisme, sosiale media, bewaring, volhoubaarheid, wyn- en kosparing, en die skep van nuwe wynstyle.

Die insiggewende en diepsinnige voorwoord is deur Zelma Long, ‘n internasionale wynmaakkonsultant en wynmaakvennoot by die vooraanstaande wynmakery, Vilafonté.

‘n Hoogtepunt van enige nuwe uitgawe is die vyfsterwyne, daardie buitengewone wyne wat na ‘n tweede ronde proeë na vore tree met die beoordelaars  se hoogste gradering op die Platter-skaal van 0 – 5 sterre (van “effens minder as gewoon” tot “uitmuntend – ‘n klassieke Suid-Afrikaanse wyn”). In vanjaar se uitgawe het 45 wyne vyf sterre ontvang en drie produsente – Boekenhoutskloof, Mullineux Family Vineyards en Nederburg – het elkeen drie vyfstergraderings ontvang, terwyl een – Graham Beck Wines –twee ontvang het. Elf wynmakerye het vir die eerste keer vyfstergraderings ontvang, naamlik Badsberg, Colmant, Diemersfontein, Fable, Flagstone, Glenelly, Miles Mossop, Mont Destin, Oak Valley, Vins d’Orrance en Warwick. (Die volledige lys vysterwyne verskyn hieronder.)

Die rooi- en witwyne met vyf sterre wat die meeste stemme van die beoordelaars ontvang het, word aangewys as Platter’s se Wyne van die Jaar. Die Rooiwyn van die Jaar is die Chamonix Pinot Noir Reserve 2010, wat in die gids beskryf word as “weelderig en lewendig”, terwyl die Witwyn van die Jaardie Badsberg Badslese 2009 is, ‘n natuurlike soetwyn wat van chenin blanc en ‘n bietjie hanepoot (muscat d’Alexandrie) gemaak is en beskryf word as “uitmuntend, elegant aangebied en aanloklik”.

In sy voortgesette fokus op waarde vir geld, identifiseer Platter’s ‘n aantal intreevlakwyne wat buitengewoon drinkbaar en goed geprys is. Die beste hiervan, nes die vyfsterwyne, word ‘n tweede keer “blind” geproe om die “Superquaffer” van die Jaar aan te wys. Vir die vyfde agtereenvolgende jaar is die ultra-gemaklike drinkwyn van die jaar ‘n witte. Hierdie keer is dit die The Wolftrap White 2010, Boekenhoutskloof se versnit van viognier, chenin blanc en grenache blanc. In die gids word daarna verwys as “heerlik en puik waarde vir geld”.

Die name van die ander 11 top waarde-vir-geld-wyne verskyn in die nuwe gids onder die opskrif “Wines of the Year” tesame met die 45 vyfsterwyne, 95 hoogs aanbevole wyne (wat vyf sterre misgeloop het maar steeds as uitmuntend beskou word) en 116 rooies en wittes wat uitstekende potensiaal vir veroudering toon. Hierdie wyne verskyn onder die opskrif “Buy Now, Drink Later”.

Platter’s se gesaghebbende Wynmakery van die Jaar-toekenning is die redakteur se persoonlike keuse nadat  verskeie kriteria in ag geneem is. Die doel is om ‘n produsent te kies wat die beste van Suid-Afrikaanse wynmaak versinnebeeld. “Hierdie toekenning word beïnvloed deur die uitslag van die vyfsterproeë,” verduidelik Philip van Zyl, die redakteur, “en die feit dat drie produsente vanjaar elkeen drie vyfstergraderings los geslaan het, het die besluit selfs moeiliker gemaak. Een van die mededingers het homself egter onderskei deur ook die ‘Superquaffer’ van die Jaar te lewer. Dit, gekoppel aan die feit dat die produsent reeds 14 vyfstergraderings sedert die 2000-uitgawe opgelewer het, plus die feit dat hy ‘n groot rol speel om Suid-Afrika op die wêreldkaart van puik wyn te plaas, het Boekenhoutskloof die outomatiese keuse gemaak om as 2012 se Wynmakery van die Jaar aangewys te word. Namens die gids wil ek Boekenhoutskloof se keldermeester, Marc Kent, sy vennote en sy span geluk wens met ‘n uitsonderlike prestasie.”

Die gedrukte weergawe vanPlatter’s se 2012-uitgawe is vanaf die tweede helfte van November beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels en kleinhandelaars landwyd. Die voorgestelde kleinhandelprys is R159.99. Die boek kan oon aanlyn bestel word by kalahari.com (www.kalahari.com) en SA Wines Online (www.sawinesonline.co.uk). Die webweergawe van die gids  is op 8 November bekend gestel by www.wineonaplatter.com, met die iPhone App®, in samewerking met Wine-Oh!, beskikbaar vir aflaai by www.wine-oh!.info. ‘n Weergawe vir Android-slimfone, ‘n mobi-webblad en ‘n e-boek volg binnekort.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram