Antieke kultivar vind byval by nuwe geslag wyndrinkers

Hierdie is beslis nie een van daai “die volgende groot wyndruif!”-artikels nie. Mense drink al hoe meer grolleau, en dis so eenvoudig soos dit. Miskien het dit iets te doen met toenemende belangstelling in die Loire-vallei van Frankryk, ’n streek wat dekades lank in die skaduwee van sy “groot broers”, Boergondië en Bordeaux, gesit het.

Die Loire-vallei word by die dag meer “omhels” deur ’n nuwe geslag wyndrinkers, die sogenaamde millennials. Sy vernaamste druifsoorte, cabernet franc en chenin blanc, kan lig en toeganklik wees, maar bied veel meer as jy ernstig is en wyn as ’n wonderlike reis van ontdekking en verkenning beskou. Hoewel

Grolleau-wyn uit die Loire-vallei.

hulle in lande soos Amerika as genotvolle happy hour-wyne met ’n erfenis beskou word, kom veral chenin blanc in Suid-Afrika meer tot sy reg as ’n wyn wat in verskillende style gemaak word, van lig tot volrond. Die dae toe albei as eenvoudig en generies beskou is, is beslis verby!

Hoe meer mens egter tyd bestee aan die Loire se wyne, hoe dieper gaan jy sy kultivarkatalogus binne. En dan tree grolleau na vore.

Grolleau is vir lank beskou as ’n esoteriese druifsoort. Hedendaagse voorkeure het dit na die voorgrond gebring. Dit bied ’n merkwaardige suur en ’n skerp, verfrissende smaak. Ligte en gemaklike rooiwyne soos grolleau neem oral oor. Baie van hulle word effe verkil aangebied. Soos ryk disse hoog in vet maaltye vir spesiale geleenthede word, vereis wyndrinkers meer wyne wat pas by ligter geregte. Die manier wat ons eet én drink as ’n samelewing is glo besig om te verander.

Grolleau is tradisioneel gebruik om die Loire se rosé-wyne te maak, en hulle het gewissel tussen effe droog en droog. Vandag se grolleau-wyne stel ’n boeket van rooi vrugte vry in die mond, met sweempies kruie in die agtergrond.

Grolleau word glo net in die Loire-vallei verbou. So word ons vertel. Hoewel dit vir nou waar mag wees, glo ek nie dit sal vir lank so wees nie.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>