Ansela van de Caab: Muratie bring hulde aan medestigter in Junie en Julie

Date posted:
June 20, 2024

Dankbaarheid maak sin van die verlede, bring vrede vir vandag en skep ’n visie vir môre.

En dis met dankbaarheid vir die geskiedenis en sy erfenis dat Muratie se mense Junie en Julie wy aan Ansela van de Caab, wat in Junie vele eeue gelede haar vryheid van slawerny bekom en met Laurens Campher, die destydse eienaar van Muratie, getrou het.

Campher was ’n jong Duitse soldaat in diens van die destydse Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie en die eerste eienaar van De Driesprong, soos Muratie aanvanklik bekend was. Hy het Ansela by die Kasteel ontmoet, daar het ’n verhouding ontstaan en nadat sy in 1695 vrygestel is, het sy en haar drie kinders met Laurens na die plaas verhuis. Die akkerboom wat sy geplant het om hul huwelik te vier, staan steeds op Muratie, en so ook die klein huisie wat Laurens vir hulle gebou het.

“Op Muratie lê erfenis aan die hart van alles wat ons doen,” sê Rijk Melck, huidige eienaar van die plaas. “Ons passie vir die bewaring van ons ryk erfenis is oral sigbaar op die plaas en al ons wyne is vernoem na die buitengewone mense wat Muratie gevorm het in wat dit vandag is.

“Ons huldig die storie van Laurens en Ansela deur ons veelbekroonde vlagskip-rooiwyn, ’n Bordeaux-styl versnit, na haar te vernoem, terwyl Laurens vereer word met ’n wit versnit wat deur chenin blanc gedryf word.”

Om die 329 jaar sedert Ansela se vrystelling van slawerny te vier, het Muratie in Junie en Julie spesiale aanbiedings in sy restaurant en proekamer.

Vir meer inligting, skakel  021 865 2330 of stuur ’n epos aan taste@muratie.co.za.

einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram