Annandale se wyne vertel Hempies se verhaal

Date posted:
November 26, 2012

“My pa was my mentor en leermeester op Alto. Ek het van kleins af saam met die wingerd groot geword en gegroei, en in die kelder saam met die wyn. Ek kan nog onthou hoe baie nagte ek sommer daar in die kelder by die wyn geslaap het. Ek meng so min moontlik in met die natuur en hou by die bewese metodes van wynmaak, daai tegnieke wat al honderde jare lank wyn van gehalte verseker. Ek krap nie waar dit nie jeuk nie.”

Aan die woord is Gerhard “Hempies” du Toit van Annandale, oud-Paul Rooser en oud- WP- en Springbok-stut. Ons sit in die deel van sy kelder wat as proelokaal dien. Dit lyk of die tyd hier kom stilstaan het. Ou plaasimplemente, stof en spinnerakke, die reuk wat my aan oorlede Jan Spies se “pure plaas” laat dink, foto’s teen die mure en bottels en bottels wyn. Net die lang tafel in die middel van die vertrek en die stoele lyk of dit skoon gehou word. Maar dis alles deel van die karakter van Annandale.

En op die tafel staan en wag Annandale se wyne vir ons. En glase natuurlik. Ons het mekaar buite voor die kelder raak geloop en sommer reguit proekamer toe gestap en gaan sit. Eers gevra hoe die lewe mekaar behandel, en toe staan  Hempies op en steek ‘n vuurtjie aan in die kaggel, reg langs ons. Dis winter en daar’s ‘n byt in die lug.

“As ons nou beter beplan het, kon ons lekker ‘n worsie op die kole gegooi het,” voeg hy met ‘n glimlag by. Volgende keer, Hempies, volgende keer, reken ek so by myselwers, en ek sal nie vergeet nie! Mens kuier alktyd lekker hier op Annandale.

Net so terloops, Hempies het sy bynaam op skool gekry. Sy hemp het altyd agter uit sy broek gehang. Wanneer hy deur onderwysers aangepraat is om sy hemp in te steek, het Hempies gehoorsaam, maar elke keer het die hemp maar net weer sy hand uit die broek gevolg! Sy voorouers was Franse Hugenote en hy is die vyfde geslag  wat Suid-Afrika se trotse wynmaaktradisie voortsit.

Hempies skink vir ons elkeen ‘n 2004- Annandale Cabernet Sauvignon. Jip, ‘n 2004-oesjaar want Hempies laat sy wyne lank op hout lê. Meestal tweede- en derdevulvate van 300 liter uit Frankryk, vertel hy my, en hier en daar ‘n nuwe vat. Ek vat ‘n teug en verwag die cabernetjie gaan my voor die bors gryp en skud dat my tande klap. Aikôna! Fluweelsag en soepel gly hy in my keel af. So elegant soos ... wel, ‘n wals van Strauss! En net so betowerend. Ek gooi so ‘n varkoog na die 2004- Annandale Shiraz, die 2005- Annandale Merlot en die 2004- Annandale Cavalier wat nog op my wag, en ek begin sommer binnensmonds kwyl.

LINKS: Daar's nie net lekker wyn en samesyn op Annandale nie, maar ook sommer baie geskiedenis.

Ons praat wyn. Ons praat rugby. Ons praat politiek. Ons praat nonsens. En Hempies skink. En die lewe kan nie lekkerder nie.  En met elke sluk verbaas ek my oor die pragtige balans, elegansie en soepelheid van Annandale se wyne.

Hempies haal ‘n moewiese bottel rooiwyn uit met ‘n klomp handtekeninge op. Dis die klein Bokkies s’n wat in 2005 die IRB Junior Wêreldkampioenskap gewen het, verduidelik hy. Ruan Pienaar se handtekening is daar, so ook Piere Spies en Chilliboy Ralepelle s’n. Hulle almal se handetekinge is daar, en ons gesels weer oor wat Hempies reken fout is met Springbok-rugby. Hy’s uitgesproke, soos altyd, maar jy weet altyd waar jy met hom staan.

Hy vertel my dat Annandale 67 hektaar groot is, dat 45 hektaar daarvan onder wingerd is – cabernet sauvignon, merlot, shiraz en cabernet franc. Hy verduidelik dat die Annandale Cavalier ‘n versnit van die twee cabernets en merlot is, met so ‘n lekseltjie shiraz.

Dan bring hy trots ‘n bottel Annandale Charlbert Merlot 2005 vorendag en vertel dat hierdie wyn spesiaal gebottel is vir onse Charlene se troue met daai vaal prinsie van Monaco. Vandaar die naam Charlbert, vir Charlene en Albert. Ons stem saam dat sy heeltemal te mooi is vir hom en dat hy heeltemal te vaal en vervelig is vir haar. En dan drink ons daarop! Terloops, dis ook Annandale se eerste merlot.

Hempies is weer loshotnot. Hy’t vier kinders – Gerhard, Louanne, Lisa en Nina. Lisa se man, Ryan Wyless, help met die boerdery. Daar is ook vier kleinkinders – Dawid, Willem Lukas, Conor en Tristan.

REGS: Annandale se proelokaal laat jou voel of die horlosie dekades gelede hier gestop het. Dis pure plaas, nes Hempies!

Ons gesels nog so toe ‘n toergids met twee vroumense uit Engeland ingestap kom, ‘n middeljarige dame met haar susterskind. Voor jy kan sê hoesit! gesels almal soos jarelange vriende, en Annandale se wyne vloei en maak die tonge losser en losser. Die vroumense koop wyn en Hempies skryf vir hulle mooi boodskappies op die bottels, gevolg deur sy handtekening. Dis mos soos dit moet wees. Mense wat mekaar ken en vreemdelinge wat rondom wyn bymekaar kom en kort voor lank vind dat die lewe eintlik ‘n lekker plek is, ‘n plek waar jy verby mense se foute kan en moet kyk want joune is dalk groter!

Dis mos ‘n wynplaas, laat hoor die jonger van die twee dames van haar, hoekom dan die perd op die etikette? Hempies verduidelik dat ‘n gedeelte van Annandale na die Tweede Wêreldoorlog ‘n tuiste vir verwaarloosde en mishandelde perde geword het en later ‘n perdryskool. Hy het die plaas in 1996 aangeskaf en vier jaar later, na 25 oeste op Alto, sy familietradisie daar gaan voortsit. Dis ook toe dat die grond na sy oorspronklike doelwit terug gekeer het ... om wyn te maak wat mense gelukkig hou!

Annandale lê in die sogenaamde “Goue Driehoek” (premie rooiwynwêreld!) aan die voet van die Stellenbosch- en Helderbergreekse tussen Stellenbosch en Somerset-Wes en is die oudste wynplaas in die Helderberg-vallei. In 1682 het die eerste mense op die plaas ingetrek, maar Goewerneur Simon van der Stel het eers ses jaar later die grond toegeken aan Jan Wismaar. Die herehuis wat in die middel van die 1700s gebou is en die kelder wat nog ouer is, staan steeds.

Die son begin trane trek en die toergids sleep met moeite haar twee Engelse besoekers daar weg. Ek soek ook maar verskoning om langer te kuier, maar die bloed in my alkohol begin teëstribbel en ek besluit om self ook maar die pad te vat. Ons skud blad en Hempies stop twee bottels van sy puik wyn in my hand. Ek sit dit vinnig in die kar net vir ingeval hy van besluit verander! Hulle gaan op ‘n baie spesiale geleentheid of twee geniet word ... en net deur my!

BO: Hempies skryf 'n boodskap op 'n bottel wyn vir 'n besoeker.

Volgende keer wanneer jy in hierdie geweste is, doen jouself ‘n guns en gaan loer in daar by Annandale en gaan proe hul lekker wyne. En koop sommer ‘n kis of drie, jy sal nie spyt wees nie. As jy gelukkig is, sal jy ‘n knewel van ‘n kêrel in die proelokaal raakloop. As jy geseënd is, sal ‘n vuurtjie in die kaggel knetter en boerewors sy vetjies van die rooster af in die kole stort. Jy’s nog nie in die hemel nie, maar jy's op pad!

Vir meer inligting oor Annandale en sy wynreeks, skakel 021-881-3560/1, stuur ‘n epos aan info@annandale.co.za of  besoek  www.annandale.co.za.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram