Alvi’s Drift stel drie wêreldbekende wynkonsultante aan

Date posted:
January 26, 2010

Alvi’s Drift, die bekroonde wynmakery op die Worcester-wynroete in die pragtige Breëriviervallei tussen Worcester en Villiersdorp, beplan om een van Suid-Afrika se grootste produsente van premie-wyn te word en het om hierdie rede drie van die wêreld se mees gesogte wynkonsultante aangestel om toesig te hou oor die landgoed se wyne.

 

John Worontschak en Sam Harrop MW van Litmus Wines sluit by Linley Schultz aan om een van die mees bekwame wynmaakspanne in Suid-Afrika te vorm. Hulle sal voortaan die bestuur van hierdie wynmakery, wat ses miljoen liter wyn per jaar produseer, behartig.

 

Worontschak, Harrop en Schultz, wat gesamentlik oor meer as 75 jaar se ervaring beskik, sal toegang hê tot nie minder nie as 360 hektaar se wingerd, 19 verskillende kultivars en ‘n moderne kelder.

 

“Die doel met hierdie baie ambisieuse projek is om Alvi’s Drift te vestig as een van Suid-Afrika se grootste produsente van premie-wyne,” vertel dr. Alvi van der Merwe, mede-eienaar. “Dit is ‘n groot uitdaging, maar ons is baie opgewonde daaroor. Ons het reeds telkemale bewys dat wyn van uitmuntende gehalte by Worcester gemaak kan word en ons vele toekennings spreek vanself.

 

“Om drie wynmakers van hierdie formaat in ons span te hê, is ‘n baie groot pluimpie vir Alvi’s Drift. Linley is een van die voorste wynmakers in Suid-Afrika, en saam met John en Sam maak hulle ‘n gedugte span. Ons gaan nie net drie van die beste wynkonsultante ter wêreld hê om tegniese insette te lewer nie, maar die Litmus Wines-span sal ook die voortou neem met die kommersiële en bemarkingsaspekte van die onderneming.

 

“Ek is oortuig ons het die regte span om hierdie gesamentlike onderneming ‘n reuse-sukses te maak.”

 

Linley Schultz het ‘n roemryke loopbaan agter hom. Nadat hy sy vakgebied in Australië bemeester het met onder andere BRL Hardy and Southcorp, het hy in 2001 na Suid-Afrika verhuis en Distell se hoof-wynmaker geword. Hy was verantwoordelik vir Suid-Afrika se grootste wynreeks wat 150 miljoen liter jaarliks verteenwoordig.

 

Vandag is hy ‘n wynkonsultant en sien baie uit na die nuwe uitdaging op Alvi’s Drift. “Ek het vantevore met John in Australië gewerk en weet ons wynmaakstyle komplementeer mekaar. Dit is ‘n opwindende geleentheid vir my.”

 

John Worontschak is een van die oorspronklike “vlieënde wynmakers”. Hy en Sam Harrop het Litmus Wines in 2008 gestig. Aangesien hulle globale wynmaakstyle en -tendense verstaan, help hulle hul kliënte in 12 verskillende wynproduserende lande om hul wyne vir die globale mark voor te berei. Litmus Wines is in London gesetel.

 

“Nadat ek eerstehands gesien het hoe goed Alvi’s Drift se wingerde onderhou word, het ek geweet ons kan hier wyn met baie karakter en persoonlikheid maak. Ons doel is om so min moontlik met die wyn in te meng om die geure en die tipiese eienskappe van elke wingerd te behou,” vertel John.

 

Sam Harrop is nie net ‘n wynmeester nie, maar hy’s ook mede-voorsitter van die International Wine Challenge, die wêreld se voorste internasionale wynkompetisie. Hy bedien kliënte regoor Frankryk, Portugal en Spanje.

 

Alvi’s Drift (vernoem na die laagwaterbruggie oor die Breërivier op die plaas) is ‘n familie-onderneming wat deur Bertie van der Merwe en sy seuns Alvi, ‘n geneesheer, en Johan, ‘n prokureur, besit en bestuur word.

 

Die plaas Alfalfa, wat Alvi’s Drift insluit, is in 1928 deur Alvi se oupa met dieselfde naam aangeskaf. Die plaas beslaan 5 000 hektaar waarvan 3 000 hektaar ‘n wildsplaas met zebra, hartebees, eland, gemsbok, duiker, klipspringer, springbok en volstruis is. Die plaas het ook ‘n groot area wat met renosterveld bedek is. Renosterveld is ‘n bedreigde fynbossoort wat net in die Wes-Kaap aangetref word.

 

Sowat 360 hektaar is onder wingerd wat uit 19 verskillende kultivars bestaan. Die eerste wyn onder die Alvi’s Drift-etiket is in 2005 gebottel.

 

Die wingerde is in die baie bekwame hande van Pierre Snyman, ‘n wingerdboukundige konsultant.

 

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram