Alvi’s Drift sit ‘n vonkel in die lewens van ‘stoute meisies’

Date posted:
August 5, 2010

As goeie meisies hemel toe gaan en slegte meisies hel toe, wat gebeur met stoute meisies? Wel, as Alvi’s Drift Privaat Kelder op die prentjiemooi Worcester-wynroete enige sê het, sal hulle hope pret hê! En om hulle te help, het Alvi’s Drift pas sy Naughty Girl Sparkling Rosé 2010 vrygestel.

“Die vonkelende pienk Naughty Girls bestaan uit ‘n versnit van muskaat- en ander druifsoorte,” sê Linley Schultz, een van die drie wêreldbekende wynmaakkonsultante wat deur Alvi’s Drift aangestel is om om te sien na hul landgoedwyne. “Die ander kultivars bly ‘n geheim. Die druiwe is met die hand gepluk en toe binne twee uur gepars.

“Slegs die beste vryloopsap is gebruik om te verseker dat die Naughty Girl sag en elegant is. Die wyn is teen lae temperature gegis om die maksimum vrugtigheid te verkry. Gisting is na ‘n ruk gestaak om die natuurlike vrugtesuiker en muskaat-aromas te behou,” het Schultz bygevoeg.

“Die Naughty Girl het ‘n pragtige, helder pienk kleur. In die neus domineer geure van ryp aarbeie en rose, terwyl die mondgevoel soet maar nie klewerig is nie, met net genoeg suur om die wyn pragtig te balanseer.”

Schultz beskryf die Alvi’s Drift Naughty Girl 2010 as “prettig en flirterend” met ‘n lae alkohol van slegs 7,5%, “wat beteken dat die gekuier langer kan duur”.

Die Alvi’s Drift Naughty Girl 2010 sal sowat R45 per bottel kos by Spar-supermarkte in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng, asook by ‘n reeks drankwinkels landwyd.

Vroeër vanjaar het John Worontschak en Sam Harrop MW van Litmus Wines in die VK by Linley aangesluit om beheer oor te neem van die Alvi’s Drift-onderneming van ses miljoen liter. Die drie van hulle, met meer as 75 jaar se wynmaakervaring, het toegang tot 360 hektaar wingerd, 19 verskillende druifsoorte en ‘n moderne wynkelder.

“Die doel met hierdie ambisieuse onderneming is om Alvi’s Drift te vestig as een van die grootste produsente van premiewyne in Suid-Afrika,” sê dr. Alvi van der Merwe, mede-eienaar. “Dit is ‘n groot uitdaging, maar ons is baie opgewonde daaroor. Ons het reeds telkemale gewys dat wyn van ware gehalte in die Worcester-omgewing gemaak kan word en ons baie toekennings spreek vanself.”

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram