Alto vereer lang tradisie van wynmaakvoortreflikheid met vrystelling van nuwe, beperkte rooi versnit

Date posted:
October 14, 2010

Schalk van der Westhuizen vier sy eerste dekade as wynmaker op Alto met die vrystelling van MPHS, ’n sterk maar soepel cuvée wat geskep is om die uitsonderlike grond en ligging van hierdie Stellenbosse droëland-rooiwynlandgoed hoog teen die hange van die Helderberge te vereer.

 

Slegs ses vate (1 800 liter) van die 2007-oesjaar is gemaak. Dit is die debuut van hierdie 67/33-versnit van cabernet franc en cabernet sauvignon wat twee jaar lank in hout verouder is en toe vir ’n verdere jaar in die bottel voor vrystelling.

 

Die kriptiese naam MPHS reflekteer die voorletters van die vier wynmakers wat verantwoordelik is vir die reputasie van die wynlandgoed. Hulle is Manie Malan, wie se pa slegs rooi kultivars so vroeg as die 1920’s op Alto geplant het, Piet du Toit, wat die plaas in 1959 gekoop het, sy seun Hempies, die bekende Springbok-stut, wat in 1983 die leisels oorgeneem het, en Schalk self wat in 2000 by Alto aangesluit het.

 

Soos sy maker is MPHS groot en sterk, maar ook soepel en gematig. Sy gekonsentreerde swart en rooi vrugtegeure is getemper deur 24 maande in nuwe Franse eikehoutvate.

 

Dit is gemaak van wat Van der Westhuizen beskou as die plaas se beste twee blokke van die gekose kultivars vir die versnit: ’n blok van 2 hektaar cabernet franc wat 350 meter bo seevlak in diep, rooi Hutton-grond geplant is en 11 jaar oud was teen pluktyd, en ’n blok van 5 hektaar cabernet sauvignon wat 500 meter bo seevlak in klipperige granietgrond groei en in 2007 veertien jaar oud was.

 

Albei wingerde word in die middag afgekoel deur die seebriese wat vanaf Valsbaai waai en die rypwordproses uitrek. Die wingerdboukundige, Eben Archer, het ’n sterk fokus geplaas op die ontwikkeling en verspreiding van die stokke se wortelstelsels wat vandag vrugte met buitengewone balans lewer.

 

 

Byskrif: Schalk van der Westhuizen is 'n stil man wat verkies dat sy wyne die praatwerk doen. En boeta, kan hulle gesels!

 

 

“Prof. Archer het gewys dat daar ’n direkte korrelasie is tussen die gehalte van die stok se wortelstelsel en die uiteindelike gehalte van die druiwe en die wyn,” sê Van der Westhuizen. “Die grootte, gesondheid en aktiwiteite van die wortelstelsel het ’n uitwerking op die groei van die lote en blare bogronds. Deur die toepassing van versigtig ontwerpte bogrondbestuurstegnieke, gekoppel aan die optimale spasiëring van wingerdrye en stokke in elke ry, is ’n gunstige balans geskep tussen die ondergrondse en bogrondse groei van die wingerdstokke. As gevolg hiervan is die totale volume van wortels gelykstaande aan die totale volume groei bogronds, insluitende vrugte, blare, stam en takke.

 

“Danksy die toestand van die stokke en hul diep wortelstelsels kon ons die druiwe teen 26° Balling pluk en steeds ’n uitstekende balans tussen vrugtegeure, suur en suiker verseker. Ons het op smaak gepluk toe die tanniene volryp was en die bessies ’n hoogtepunt bereik het wat betref geurkonsentrasie.

 

“Normaalweg sal hierdie druiwe hul weg vind na ons grotervolume- cabernet sauvignon- of Alto Rouge-wyne, maar hierdie juwele het nou ’n eie stem gevind in hierdie nuwe versnit. Ons het die beste van die beste vrugte gekies en moes sorg dat ons dit voor die bobbejane in die hande kry!” het Van der Westhuizen bygevoeg. “Hulle het ’n foutlose instink om altyd die heel beste trosse te identifiseer.”

 

Hy sê die wyn se vrugte-intensiteit is getemper deur uitgebreide veroudering in klein vaatjies wat medium gerooster is en wat van drie kuiperye kom om tot sy kompleksiteit by te dra. “Ek het aanvanklik gedink 18 maande sal genoeg wees, maar die vrugte was in daardie stadium steeds te kragtig. Twee jaar was presies wat die wyn op hout benodig het om die ronde, grasieuse volheid en kompleksiteit te skep waarna ek gesoek het.”

 

Na veroudering is die wyn versny en slegs lig gefilter voor bottelering.

 

Hy is trots op die aangename harmonie van MPHS. “Wanneer jy so ryp pluk, is dit altyd ’n uitdaging om ’n verfynde profiel te skep, maar ek dink ons het daarin geslaag. Die wyn kan nou geniet word, maar dit het die struktuur om vir minstens ’n dekade te verouder.”

 

Op sy tipies beskeie en onderbeklemtoonde wyse verduidelik hy dat die idee vir MPHS van een van Alto se grootste ondersteuners kom, naamlik Janånke Johansson, die landgoed se Sweedse invoerder en ’n wyd gerespekteerde wynbeoordelaar en -handelaar wat geglo het die tyd was ryp vir ’n handgemaakte wyn in beperkte volume wat die heel beste van Alto aan alle wynkenners kan reflekteer.

 

MPHS sal slegs in uitsonderlike oesjare gemaak word en die hoeveelheid van elk van die cabernet-komponente sal jaarliks van die vrugte se profiel afhang. “Die natuur wys ons die weg en geen twee oesjare sal waarskynlik ooit dieselfde resep volg nie.”

 

Die wyn is plaaslik beskikbaar by uitgesoekte handelaars en sal sowat R700 per bottel kos. Vir besonderhede van waar dit verkoop word, kontak Cape Legends op 021 809 7000.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram