Allesverloren se Tinta Barocca en Port plettervat Corné Krige!

Date posted:
July 23, 2009

Wat het “Rondom Lelik”, “broffie” en “swart gevaar” in gemeen? Wel, eintlik niks nie, maar dis drie dinge wat eendag nie te lank gelede nie op die Allesverloren-wynlandgoed daar in die Riebeek-vallei anderkant Malmesbury vir my bymekaar gekom het.

 

Kyk, dit werk nou so: as jy so lelik is dat jou eie ma jou nie erken nie of jou hond vir jou blaf voor hy tjankend weghol, dan noem die mense in die Riebeek-vallei jou glo Rondom Lelik! En ‘n broffie is brandewyn en koffie, oftewel brandewyn in jou koffie, aldus Danie Malan, die baas van die plaas! En die swart gevaar? Wel, dis die Renault Mégane Sport R26 F1 Limited Edition (‘n hele bekvol!) waarmee ek Allesverloren toe is in rekordtyd, ‘n blitsbuks wat jou byna gewelddadig uit jou middeljare pluk en van jou weer ‘n baie ondeunde laaitie maak.

 

En met 169 kW uit sy 2-liter, turbo-aangejaagde enjin wat hom glo tot 236 km/h kan laat haal, is hierdie astrante Fransman so haastig soos ‘n jagluiperd met ‘n rooiwarm brandrissie in sy jy-weet-waar gedruk! Ek meen, hy lyk selfs blitsig as hy stilstaan!

 

Maar genoeg van die Renault Megane met sy F1-aspirasies. Allesverloren, Danie Malan en oud-WP-, -Stormers- en –Springbokkaptein Corné Krige was die dag die spesiale gaste. En natuurlik Danie se uitmuntende rooiwyne en port, en ‘n varknekpotjie uit die boeke.

 

Allesverloren (022-461-2320) se ryk geskiedenis dateer terug na die laat 1600’s toe ou Willem Adriaan die stuk grond aan ‘n weduwee Cloete gegee het. Maar met die familie se terugkeer eendag vroeg in die 18de eeu na ‘n kerkbesoek en om lewensmiddele aan te skaf op Stellenbosch (‘n reis wat doerie jare ‘n paar dae geneem het) het hulle op ‘n geplunderde plaas en afgebrande opstal afgekom. Hulle het alles verloor!

 

Die Malan-erfenis het sy ontstaan in 1872 toe Daniël Francois Malan die plaas gekoop het. Eienaar/wynmaker Danie is die vyfde geslag Malan op Allesverloren.

 

Die wynlandgoed bied benewens puik wyn ook konferensiegeriewe wat tot 250 mense kan akkommodeer (ook vir troues en ander geleenthede), spyseniering en pieknieks (073 017 4402). En daar is selfs ‘n restaurant, die Pleasant Pheasant (022-461-2170).

 

Corné skat sy wynkennis so op 4 uit 10. “Jong, hoe kan iemand wat uit Zambië kom veel van wyn weet?”, wou hy van my weet. Maar hy was gou om by te voeg dat hy rooiwyn verkies, veral pinotage en shiraz, en ook ‘n lekker volronde cabernetjie. En natuurlik, soos enige selfrespekterende Afrikaner is hy lief vir vleisbraai  en dan is “enige lekker rooie” die beste geselskap.

 

Hy het sy rugbystewels verruil vir die wêreld van buite-advertensies, en as jy verby een van daai moewiese advertensieborde ry en jy sien die naam CK Outdoor Advertising, dan weet jy nou waarvoor daai CK staan.

 

Links: En dit het geil gegaan aan tafel tussen al die lekker kos, lekkerder wyn en lekkerste geselskap!

 

En daar sit ons toe (Danie se vrou Juanita het intussen by ons aangesluit) met die skilderagtige Riebeek-vallei in die agtergrond. Ons skop af met die touriga nacional (‘n Portugese kultivar wat hoofsaaklik vir port gebruik word), en toe volg die tinta barocca (nog ‘n Porra wat vir port gebruik word), die shiraz (en ek begin die stemme van die engelekoor te hoor!) en sluit af met ‘n cabernet sauvignon waarop Danie baie trots is. En intussen het die voorgeregte wat jou mond laat water plek gemaak vir die varknekpotjie, en dit gaan geil!

 

Oor nagereg en koffie het die rooiwyn plek gemaak (tydelik!) vir Allesverloren se port, eers die 2005-model wat jou laat verstaan hoekom die oudste wynlandgoed in die Swartland so bekend is vir sy portwyn, en toe haal Danie die Allesverloren Vintage Port 1997 uit. Glo my, hy kan maar windgat wees (nie dat hy is nie), maar hy kan maar!

 

Corné het die Allesverloren Tinta Barocca 2006 as sy gunsteling gekies omdat dit so “sag en volrond” is, en hy het saam gestem dat albei portwyne uitmuntend is, maar dat daai 1997-model ietsie spesiaal is.

 

Die tinta barocca met sy aanloklike geure van aarbeie, moerbeie en donker sjokolade het by my net-net die stryd verloor teen die Allesverloren Shiraz 2007 met sy ryk geure van pruime en pruimedante wat heerlik na die mond deurgevoer word.

 

Omdat die shiraz ‘n volronde wyn is, behoort hy goed te werk met geurige rooivleis- en selfs pluimveegeregte, terwyl die tinta barocca ‘n goeie pasmaat vir wildsvleis en geroosterde rooivleisgeregte behoort te wees.

 

James Joyce het gevra wat is beter as om aan die einde van die dag by ‘n tafel te sit en wyn te geniet met vriende, of plaasvervangers vir vriende. Wel, wat van om in die middel van die dag by ‘n tafel te sit en wyn te geniet met vriende, of plaasvervangers vir vriende!

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram