Allée Bleue wen gesogte streekstrofee op Decanter World Wine Awards

Date posted:
May 31, 2011

“Om goeie wyn te maak, is ‘n vaardigheid. Puik wyn is ‘n kuns.” Hierdie gevleuelde woorde van die wynghoeroe, Robert Mondavi, het op die 2011- Decanter World Wine Awards in London waar geword  vir die Franschhoekse wynlandgoed, Allée Bleue, toe die landgoed se Chenin Blanc 2010 die gesogte streekstrofee vir ‘n Suid-Afrikaanse enkelkultivarwyn onder £10 ontvang het.

Die bekroonde wynmaker, Du Toit van Zyl, het sy trots en blydskap uitgespreek oor hierdie prestasie en bygevoeg dat dit maar net die begin is vir Allée Bleue.

“Ek het nog altyd geglo dat mens puik wyn van chenin blanc kan maak, en ons klem op en verbintenis tot hierdie wit kultivar is pas beloon. Dis maar net die begin. Hou hierdie ruimte dop!”

Du Toit sê die druiwe vir die Allée Bleue Chenin Blanc 2010 kom van uitgesoekte wingerde plaaslik sowel as uit die Walkerbaaigebied. Hierdie gehoute, droë witwyn bestaan uit 92% chenin blanc en 8% viognier.

“Na 50% se gisting in die tenk is die sap oorgetap in vate om die gistingsproses te voltooi. Die wyn is toe vir 6 maande op die moer in die vate verouder voor bottelering. Die houtveroudering het in 25% nuwe Franse eikehoutvate en die res in ouer vate van 400 en 500 liter plaasgevind.

“Die wyn het ‘n ligte strooikleur met sweempies groen wat sy jeugdigheid ten toon stel. Daar is intense geure van grenadella en lemmetjie in die neus wat gevolg word deur titsels geroosterde neute en vanielje. In die mond bied hierdie uitlokkende wyn hope geure van lemoenskil en songedroogde vrugte. Hierdie ryk en ryp geure word pragtig gebalanseer deur ‘n vars mineraliteit van die lewendige suur.”

Du Toit stel voor dat die Allée Bleue Chenin Blanc 2010 met ryk seekosdisse bedien word, soos vlamgebrande tuna met balsemreduksie, vlamgebraaide lynvis met suurlemoenbotter en gebraaide groente, of Weskus-mossels in ‘n romerige witwynsous.

“Ons het ‘n uitstekende span en ‘n fantastiese infrastruktuur in sowel die wingerde as die moderne kelder en ons het onsself belowe om Allée Bleue se wyne na die volgende vlak te neem, en hierdie toekenning is maar net die eerste tree,” het Du Toit met oortuiging bygevoeg.

Die bekroonde wynmaker het maar net twee jaar gelede by Allée Bleue aangesluit met ‘n magdom ervaring en kundigheid van meer as tien jaar as deel van die wynmaakspan op Simonsig naby Stellenbosch.  Hy is nie net verbind tot die maak van swaargewig- en trots Suid-Afrikaanse chenin blanc nie, maar is vasbeslote om al die landgoed se wyne na nuwe hoogtes te neem.

“Hoewel dit onmoontlik is om perfeksie te behaal, sal ons nooit ophou om daarna te streef in al ons wynmaakpogings nie,” belowe hy.

Altesaam 12 252 wyne is vir vanjaar se Decanter World Wine Awards ingeskryf, 11% meer as in 2010, en 20% van die wêreld se wynmeesters het op die beoordelingspaneel gesit wat bestaan het uit kenners vanuit meer as 25 lande. Hierbenewens het 67.96% van die wyne wat vanjaar ingeskryf is toekennings ontvang vergeleke met 62.5% in die heel eerste Decanter World Wine Awards in 2004, wat op die merkwaardige konsistensie van die beoordelingsproses dui.

Vir meer inligting oor Allée Bleue se wyne, skakel (27) (21)- 874-1021, stuur ‘n epos aan Wine.Tasting@alleebleue.com of besoek www.alleebleue.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram