Alchemy of Gold het nog ’n slim en oortuigende plan bedink om te bewys hoe veelsydig sy bekroonde Suid-Afrikaanse brandewyne is. Dié keer word hulle saam met ’n klompie baie oorspronklike patees en terriene deur die Belgies/Burundiese sjef Coco Reinharz van die gewilde Sel et Poivre-restaurant by die Quatermain-hotel in Morningside in Johannesburg aangebied.
“Puik brandewyn kan saam met talle disse bedien word, van fynproewerkanapees tot vleishappies, kaas en soetgoed,” sê Lee-Anne Lotz, die handelsmerkbestuurder van die Alchemy of Gold-versameling. “Die brandewyne in die portefeulje het nasionale kleinood geword. Hulle word vir hul vakmanskap en as unieke, eg Suid-Afrikaanse toonbeelde van die beste brandewyne gevier. Proe ’n mens hulle op ’n vars en oorspronklike wyse, begin jy nuwe smake ontdek en ook besef waarom hulle so uniek is.
“Coco het ’n klompie tergende samevoegings geskep wat smaakgrense op nuwe maar heel praktiese maniere verskuif. Sy unieke weergawe van welbekende Suid-Afrikaanse smake skep ’n opwindende platform vir die identifisering van die besondere eienskappe wat ons Alchemy of Gold-brandewyne so kop en skouers laat uitstaan. Ons kom agter dat die kompleksiteit van hierdie brandewyne, hul lewendige druiwesmake danksy baie sorgvuldige keuring van die vrugte en uiters gesofistikeerde distilleerdery, saam met die houtkarakter vanweë die eikehoutveroudering, uitstekend by Coco se genuanseerde en gesofistikeerde smake pas.”
Byskrif: Flight of the Fish Eagle met 'n tarentaal- en marsepeinterrien op 'n amandelkoekie.
Reinharz word beskou as die voorloper van ’n nuwe fynproewersbeweging wat tradisionele disse met verbeeldingryke en genuanseerde swier verhef. Hy omskep hulle met groot welslae in nuwe smaak-ervarings.
“Ons bedien Flight of the Fish Eagle met ’n tarentaal-en-marsepein-terrien op ’n amandelkoekie wat die delikate tikkies amandel in dié satyngladde, lig goudkleurige brandewyn beklemtoon,” verduidelik Reinharz.
“Ek het drie eg Suid-Afrikaanse smaak-ervarings saamgevoeg met boerewors-brood en appelkoosblatjang wat die Oude Meester Demant, ’n potketelbrandewyn, as maat kry. Die ryk kompleksiteit van smake soos neut, appelkoos, tabak en subtiele eikehout in dié brandewyn tree gevolglik uitmuntend na vore.”
Byskrif: Belgiese sjokolade en peertertjies met Klipdrift Gold.
Hy sê die sofistikasie van die Van Ryn’s 10 Year Old Vintage-brandewyn vereis vis, naamlik varswater-tilapia wat in jasmyntee gemarineer word. Die visgereg word op geroosterde rogbrood bedien. Hy bedien die Uitkyk 10 Year Old Grand Reserve, ’n landgoed-potketelbrandewyn, met ’n terrien van gerookte kwartel en ganslewer op ’n onderlaag van Belgiese andyvie-kompot.
“Natuurlik moet daar ’n soetigheid wees. In dié opsig was ek effens meer tradisioneel. Ek bedien Belgiese soet sjokolade en peer-tertjies met die stewige, volmondige Klipdrift Gold. Die lekkerte pas uitstekend by die pragtig geïntegreerde houtsmake wat in die brandewyn se nasmaak deurskemer, want dié herinner reeds aan sjokolade en haselneute,” sê Reinharz.
Meer oor Alchemy of Gold
Alchemy of Gold is ’n portefeulje bekroonde Suid-Afrikaanse brandewyne wat ’n nasionale kleinood geword het.
Die brandewyne word gemaak op die tradisionele manier wat in Cognac vervolmaak is, met koperpotketels, en word dan op ’n uniek Suid-Afrikaanse manier in Franse eikehout verouder.
Die versameling se naam kom van die alchemiste van die Middeleeue. ’n Mens onthou hulle veral omdat hulle onedele metale in goud probeer verander het. Hulle het egter ook die kuns van distilleerdery van die Midde-Ooste na Europa toe gebring, en die grondslag vir puik brandewyne geskep. ’n Deel van die proses om brandewyn te maak, herinner ’n mens ook aan alchemie as jy daarmee bedoel dat iets in goud omskep word. Druiwe wat deur die elemente vertroetel is, verander in wyn, en word dan gedistilleer, stadig in hout verouder en deur meester-distilleerder versny om goud in ’n glas te skep.
Die Alchemy of Gold-reeks bestaan onder meer uit die volgende:
Van Ryn’s Collection Reserve – 10, 12, 15 en 20 Year Old
Oude Meester – Souverein (18 Year Old), 12 Year Old Reserve, Demant
Klipdrift – Klipdrift Gold en Klipdrift Premium
Nederburg Solera Potstill
Uitkyk 10 Year Old Grand Reserve
Collison’s White Gold
Flight of the Fish Eagle
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast