Aan de Doorns stel ‘wyn vir Jan en alleman’ bekend

Date posted:
March 25, 2011

Chenin blanc is so eg Suid-Afrikaans soos rugby, braaivleis en sonskyn. En so veelsydig dat dit enige smaakklier in enige mond plesier kan verskaf.

 

Aan de Doorns-wynkelder op die Worcester Wyn- en Olyfroete het reeds menige toekennings ingepalm vir hul weergawe van hierdie Suid-Afrikaanse gunsteling, waaronder Beste Value-toekennings in die gesaghebbende wyntydskrif WINE vir sowel hul 2009- as hul 2010-oesjare.

 

Hierdie bekende wynkelder tussen Worcester en Villiersdorp het pas die jongste oesjaar van sy gewilde Chenin Blanc die lig laat sien, en die Aan de Doorns Chenin Blanc 2011 gaan weer eens baie tonge laat jubel!

 

“‘n Ligte wyn om te geniet, enige tyd en enige plek, met heerlike tropiese en sitrusgeure,” is hoe Johan Morkel, keldermeester/bestuurder van Aan de Doorns-kelder, hierdie wyn beskryf. “Geniet hom op sy eie, nie te koud nie, of saam met enige visgereg of ander ligte etes. Ons 2011- Chenin Blanc is die ideale metgesel vir enige geleentheid, maak nie saak waar jy is of wat jy doen nie, of met wie jy dit doen nie.”

 

Hierdie ongehoute en heerlik droë witwyn het ‘n lekker lae alkoholinhoud van slegs 11,5% en spog met ‘n ryk en vol mondgevoel. Dis goed gebalanseerd en het ‘n talmende nasmaak.

 

Die Aan de Doorns Chenin Blanc 2011 kos slegs R22 per bottel en is beskikbaar by die kelder. Die proelokaal is van Maandag tot Vrydag van 8vm tot 5 nm oop en Saterdae van 10vm tot 1nm.

 

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram