Aan de Doorns se warm Blanc de Noir vir die koue dae

Date posted:
June 22, 2010

Daar is nóg goeie nuus vir hierdie koue winterdae uit die Worcester-wynstreek. Die Aan de Doorns-wynkelder tussen Worcester en Villiersdorp, wat onlangs ‘n goue medalje vir hul 2009- Rooi Muskadel los geslaan het op die jaarlikse prysuitdeling van die Suid-Afrikaanse Muskadelassosiasie, het pas ‘n semi-soet Blanc de Noir vrygestel.

 

Die Aan de Doorns Blanc de Noir 2010 is ‘n heerlike, ligte wyn met geure van roosblare. Dit is van muskadeldruiwe gemaak wat twee dae op die doppe gelê het voordat die sap afgetrek is. Die wyn het ‘n lae alkohol van 12%.

 

“Hierdie Blanc de Noir van ons sal die koue vinnig verdryf,” meen Johan Morkel, bestuurder/wynmaker, “maar op gebreekte ys in die somer sal hy net so baie vriende maak. Geniet hom saam met kerrie, vis, hoender of ander sterk gegeurde kos en jy sal ‘n feesmaal hê.”

 

Wat Aan de Doorns se Blanc de Noir 2010 selfs meer aantreklik maak, is sy prys. Hy kos slegs R20 per bottel, of R100 vir ‘n kissie van ses. Die wyn is hoofsaaklik by die kelder self beskikbaar waar hierdie en ander Aan de Doorns-wyne in die week van 08:00 tot 17:00 geproe en gekoop kan word en Saterdae van 10:00 tot 13:00.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram